YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 19

19
Kan egskeiding?
1Jesus het daarna uit Galilea vertrek. Hy is na Judea toe, daar oorkant die Jordaan. 2Oudergewoonte het ’n groot skare mense na Hom toe gestroom. Jesus het al die siekes onder hulle gesond gemaak.
3’n Klomp Fariseërs het ook daar opgedaag. Hulle wou Jesus verneder met ’n strikvraag. “Kom ons hoor ’n bietjie wat jy dink. Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?”
4Jesus het dadelik ’n teenvraag vir hulle gereed gehad: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Weet julle nie daar staan geskryf dat God heel aan die begin man en vrou gemaak het om lewenslank by mekaar te bly nie? 5Daarom het God gesê: ‘Die dag wanneer ’n man trou, sal hy nie meer by sy ouers bly nie. Nee, hy en sy vrou sal dan op hulle eie gaan bly. Hulle sal dan liggaamlik en geestelik een word.’
6“In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.”
7Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.”
8“Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. 9Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë.
“Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.”
10Na die tyd het Jesus se dissipels eenkant vir Hom kom sê: “Ons het gestaan en luister na wat U vir die Fariseërs oor die huwelik gesê het. Maar, Here, g’n mens kan dit wat U sê, nakom nie. Dis heeltemal te moeilik. Is dit dan nie maar beter om nie te trou nie?”
11“Ja, Ek weet dis nie maklik om te doen wat Ek vir julle sê nie,” het Jesus geantwoord. “Maar wanneer God met sy goedheid in julle lewens aan die werk is, kan julle doen wat Ek sê. Tog is dit nie vir almal moontlik om te trou nie. 12Daar is byvoorbeeld mense wat nie in staat is om te trou nie omdat hulle weens aangebore liggaamlike gebreke nie hulle normale seksuele funksies kan vervul nie. Daar is ook mans wat ontman is en nie in staat is om kinders te hê nie. En dan is daar ook mense wat self besluit het dat hulle nie wil trou nie sodat hulle al hulle tyd en energie aan God se diens kan wy. As julle egter kans sien om my voorskrifte oor die huwelik uit te voer, trou dan!”
Jesus en die kindertjies
13Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie. 14Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.” 15Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek.
God of geld
16Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?”
17“Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.”
18“Watter voorskrifte?” het die man gevra.
“Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie; 19jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.”
20“Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.”
21Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”
22Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap.
23Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie. 24Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.”
25Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?”
26Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.”
27Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Nou moet U reguit vir ons sê wat ons dissipels se kans is om daar in te kom. Kyk, ons het al ons besittings weggegee en u volgelinge geword.”
28“Ek het baie goeie nuus vir julle,” antwoord Jesus. “Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal Ek as die Seun van die mens daar as Koning regeer. Ek self sal sorg dat julle die heel beste plekke daar kry. Julle sal soos konings op twaalf trone gaan sit en oor almal in Israel oordeel.
29“Maar Ek het ook goeie nuus vir al die ander mense wat baie dinge moes opoffer om my volgelinge te word. Party moes ’n huis of ’n familielid of ’n goeie werk prysgee. Hulle sal 100 maal daarvoor vergoed word, sommer nou al. Hulle sal elke dag God se goedheid ervaar. En hulle sal definitief ook ’n plek in my Vader se nuwe wêreld kry.
30“Mense wat nou hier op aarde baie belangrik is, sal glad nie ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat egter nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar belangrik wees.”

Currently Selected:

Matteus 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy