YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 19

19
Uit die boom tot binne-in God se nuwe wêreld
1Later het Jesus deur Jerigo gestap. 2Een van die mense wat daar gebly het se naam was Saggeus. Hy was die hoof van die berugte tollenaars wat belasting ingevorder het, en ’n skatryk man. 3Toe Saggeus hoor dat Jesus deur die dorp stap, het hy probeer om Hom tussen die mense deur te sien te kry. Maar hy kon nie, want hy was te kort. 4Toe maak hy ’n plan: hy het gou vooruitgehardloop en in ’n wildevyeboom gaan klim wat langs die pad gestaan het waar Jesus sou verbyloop.
5Toe Jesus by die wildevyeboom kom, het Hy skielik gaan staan, opgekyk en gesê: “Saggeus, klim dadelik af. Maak gou! Want Ek moet vandag by jou kom oorbly.”
6Saggeus het omtrent uit die boom geval so vinnig het hy afgeklim. Hy was baie opgewonde dat Jesus besluit het om juis by hom te kom bly.
7Natuurlik was die mense van die dorp glad nie bly oor Jesus se keuse nie. “Wat vang hy aan? Hoekom gaan bly hy by die grootste skelm in die dorp?”
8Maar Saggeus se lewe het daardie dag heeltemal verander. Hy het voor die Here gaan staan en vir Hom gesê: “Kyk, van nou af gaan ek anders lewe. Daarom gee ek nou die helfte van alles wat ek besit vir die armes. In die verlede het ek baie mense verkul met geld. Maar ek gaan daardie geld vierdubbel aan hulle terugbetaal.”
9Jesus sê toe: “Vandag het God jou lewe splinternuut gemaak omdat jy My in jou huis toegelaat het. Jy tel nou ook onder die kinders van Abraham. Almal wat in My glo, is sy nageslag. 10Jy ook! Ek, die Seun van die mens, het gekom om mense te soek wat op die verkeerde pad leef. Ek maak hulle lewens splinternuut.”
Sit skouer aan die wiel
11Terwyl almal so na Jesus sit en luister, het Hy vir hulle ’n storie vertel. Hulle was nou nie meer ver van Jerusalem af nie en party van sy volgelinge het gedink dat God se nuwe wêreld sommer nou enige oomblik sou aanbreek.
12“Daar was eendag ’n baie belangrike man. Hy moes toe vir ’n lang tyd van sy grond af weggaan om die hoof te word van ’n koninkryk in ’n naburige gebied. 13Voor sy vertrek het hy tien van sy werkers laat roep. Hy het toe tien sakkies vol geld gevat en aan elkeen van hulle een gegee. ‘Gaan doen nou goeie besigheid met my geld. Wanneer ek terugkom, moet julle vir my kom sê wat julle daarmee gemaak het.’
14“Dié ryk man was nie gewild onder die burgers van die land nie. Toe hulle hoor dat hy vertrek het, het hulle ’n boodskap agter hom aangestuur: ‘Ons hoop nie dat jy ook ons leier word nie, want ons hou niks van jou nie.’
15“Kort nadat die man die heerser van die naburige gebied geword het, het hy na sy huis toe teruggekeer. Hy roep toe sy werkers bymekaar om by hulle te hoor wat hulle met sy geld gemaak het.
16“Die eerste een kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het, gaan vertiendubbel. Hier is nou tien maal soveel as wat u vroeër vir my gegee het.’
17“‘Ongelooflik! Jy was getrou aan my selfs tot in die heel kleinste dingetjies. Daarom stel ek jou van nou af aan as die hoof oor tien stede in my landgebied.’
18“Die tweede werker kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het vyf maal meer gemaak.’
19“Die heerser was bly daaroor: ‘Van vandag af maak ek jou die hoof van vyf stede in my landgebied.’
20“Werker nommer drie het toe sy opwagting gemaak en gesê: ‘Ag, Meneer, hier is al die geld veilig terug wat u aan my gegee het. 21Omdat ek weet u is ’n harde man, het ek besluit om u geld veilig weg te steek. Want u is iemand wat vat sonder om te gee en wat oes waar u nie geplant het nie.’
22“Die heerser sê toe: ‘Jy is regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is baie streng en verwag net die beste van julle. 23Kon jy nie maar my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. 24Vat hierdie man se geld weg en gaan gee dit aan daardie werker wat my geld vertiendubbel het.’
25“Die ander werkers was baie verbaas daaroor: ‘Maar, Meneer, hy het dan mos al klaar tien maal soveel geld as aan die begin. Waarom moet hy nog kry?’
26“Toe antwoord die heerser: ‘Almal wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en hard te werk met dit wat hulle het, sal nog meer kry. Maar wie niks doen nie, sal uiteindelik ook nog die bietjie verloor wat hulle het.
27“‘En wat daardie spul mense hier in die omgewing betref wat nie wou hê ek moet die heerser word nie - bring hulle hier en maak hulle dood, sommer hier reg voor my.’”
28Toe Jesus hierdie verhaal klaar vertel het, het Hy sy reis na Jerusalem voortgesit.
Op ’n donkie Jerusalem in
29Hy kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. 30“Gaan gou na Betfage toe,” sê Jesus vir twee van sy volgelinge. “Nes julle die dorp inkom, sal julle ’n jong donkie daar kry. Niemand het nog ooit op hom gery nie. Bring hom vir My. 31As iemand vra wat julle doen, sê dan: ‘Die Here het hierdie donkie nodig.’”
32Die twee volgelinge het toe na Betfage gegaan en die jong donkie daar gekry. 33Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?”
34“Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord.
35Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit. 36Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit. 37Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het. 38Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.”
39’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!”
40Jesus antwoord: “En waarom nie? As hulle sou stilbly, sou die klippe hier langs die pad dieselfde oor My uitroep!”
41Toe Jesus naby Jerusalem kom, was Hy baie hartseer. Terwyl die trane oor sy wange loop, sê Hy: 42“Jerusalem, as jy net jou oë wil oopmaak en besef wie vandag na jou toe kom. Dan sal God se vrede regtig hier aanbreek. Maar nou is jy stokblind! Daarom lê daar swaar tye vir jou voor. 43Een van die dae sal jou vyande hulle hier om die stad kom ingrawe. 44Hulle sal jou omsingel en al jou inwoners doodmaak. G’n kind of kraai sal oorbly nie. Ja, hierdie hele stad sal met die grond gelykgemaak word. Dis jou straf omdat jy jou rug vir My gedraai het. Ja, dié dag toe Ek by jou besoek kom aflê het, wou jy My nie ontvang nie.”
Jesus in die tempel
45In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die groot tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Hier op die tempelplein is offerdiere aan die mense verkoop wat nie self diere by hulle gehad het nie. 46Jesus het skielik begin om al die handelaars weg te jaag. Hy sê toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan:
‘Mense moet My kom aanbid hier in my huis. Julle het dit egter die bymekaarkomplek van ’n klomp skelms gemaak.’”
47Daarna het Jesus elke dag na die tempel toe gekom om vir die mense te vertel van God se nuwe wêreld. Dit het al die belangrikste godsdienstige leiers van die stad woedend gemaak. Hulle kon dit nie verdra dat Jesus daar in hulle hoofkwartier sulke dinge sê nie. Daarom het hulle besluit om Hom dood te maak. 48Maar hulle was magteloos, want al die mense het aan Jesus se lippe gehang.

Currently Selected:

Lukas 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy