YouVersion Logo
Search Icon

Josua 6

6
Jerigo word ingeneem
1Jerigo se stadsdeure is deeglik gesluit. Daar was nêrens plek om in te kom nie, so bang was die mense vir die Israeliete. Niemand is toegelaat om in of uit te gaan nie. 2Maar die Here het vir Josua gesê: “Ek gee Jerigo, met sy koning en al sy soldate, in jou mag oor. 3Jy en al jou soldate moet elke dag, vir ses dae, reg om die stad loop. 4Voor die verbondsark, wat julle elke dag saam met julle moet dra, moet sewe priesters loop, elkeen met ’n trompet. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters op die trompette blaas. 5Sodra julle die priesters op die trompette hoor blaas, moet almal die aanvalskreet hard uitskree. Dan sal die mure van die stad inmekaarval sodat julle maklik in die stad kan ingaan om dit te oorrompel.”
6Josua die seun van Nun het toe die priesters geroep. Hy het vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en wys sewe priesters aan wat voor die ark uitloop, elkeen met ’n trompet waarop hy kan blaas.”
7Vir die volk het hy gesê: “Loop nou om die stad. Laat die soldate saam met die ark van die Here voor loop.”
8-9En toe, net soos Josua beveel het, het die mense voor die ark begin stap met die sewe priesters wat op die sewe trompette blaas op hulle hakke, gevolg deur die verbondsark van die Here en die agterhoede. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.
10“Moenie skree nie; moenie eens praat nie,” het Josua beveel. “Ek wil nie ’n woord van enigeen van julle hoor totdat ek julle beveel om te skree nie. Dan moet julle skree!”
11Hulle het op daardie dag die ark van die Here een maal om die stad gedra. Daarna is hulle terug kamp toe vir die nag. 12-13Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas. 14Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen.
15Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop. 16Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor! 17Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het. 18Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word. 19Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.”
20Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel. 21Hulle het alles vernietig wat in die stad was. Mans en vroue, jonk en oud, beeste, skape, donkies, alles is voor die voet tot niet gemaak. 22Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.”
23Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring. 24Toe het hulle die stad met alles wat daarin was, tot op die grond afgebrand. Net die artikels van goud, silwer, brons en yster is uitgehou vir die skatkis in die Here se huis. 25Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel.
’n Waarskuwing
26Toe het Josua ernstig gewaarsku: “Die Here sal die mens wat die stad Jerigo probeer herbou, beslis straf. Dit sal die lewe van sy oudste seun kos om die fondamente te herbou en as hy die deure van die hekke hang, sal sy jongste seun sterf.” 27Die Here was by Josua. Hy was later oor die hele land bekend.

Currently Selected:

Josua 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy