YouVersion Logo
Search Icon

Josua 13

13
Die opdrag om die land te verdeel
1Teen dié tyd was Josua al baie oud. Daarom het die Here vir hom gesê: “Jy is nou al baie oud, maar daar is nog ’n groot deel van die land wat ingeneem moet word: 2die hele grondgebied van die Filistyne en die Gesuriete. 3Ook die deel van hierdie gebied wat aan die Kanaäniete behoort. Dit is die gebied wat strek van die Sigorrivier af aan die oosgrens van Egipte en noordwaarts tot by die grens met Ekron. Dit sluit in die vyf Filistynse dorpe Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, asook die gebied van die Awwiete in die suide. 4Die res van die Kanaäniete se gebied moet ook nog ingeneem word, insluitend Meara wat aan die Sidoniërs behoort en verder noordwaarts tot by Afek aan die Amoritiese grens; 5die gebied van die Gebaliete; asook die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van die Hermonberg af tot by Lemo-Hamat. 6-7Dit sluit ook die hoër bergagtige gebiede van die Libanon af tot by Misrefot-Majim in. Ek sal al hierdie mense uit hulle gebiede wegdryf sodat die Israeliete daar kan gaan bly. Wat jy moet doen, is om te sorg dat die hele land onder die halwe Manassestam en die ander nege oorblywende stamme verdeel word volgens my opdrag aan jou.
Die verdeling van die gebied aan
die oostekant van die Jordaan
8Moses die Here se dienaar het reeds vir die stamme van Ruben, Gad en die ander helfte van die Manassestam hulle deel van die land aan die oostekant van die Jordaan gegee. 9Hulle gebied het gestrek vanaf Aroër die stad in die middel van die vallei op die oewer van die Arnonrivier en het ook die platorand van Medeba af tot by Dibon ingesluit. 10Dit het verder gestrek tot by die grens van die Amoriete en het al die stede van die Amoritiese koning, Sihon, wat in Gesbon regeer het, ingesluit. 11Ook Gilead, met die gebiede Gesur en Maäka, die hele berg Hermon, asook die hele Basan tot so ver as Salka. 12Dit het ook die koninkryk van koning Og van Basan, wat in Astarot en Edreï regeer het, ingesluit. Hy was die laaste van die Refaïete wat Moses nog verslaan en verdryf het. 13Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uit die gebied uit verdryf nie, en daarom het hulle saam met hulle daar gebly. 14Net die stam van Levi het nie ’n eie grondgebied gekry nie. Hulle erfdeel was, soos die Here beloof het, ’n deel van die offers wat op die altaar aan die Here, die God van Israel, geoffer is.
Die gebied van Ruben
15Aan die families in die stam van Ruben het Moses die volgende gebiede toegeken: 16van Aroër, die stad in die middel van die vallei op die oewer van die Arnonrivier, af tot by die platorand van Medeba. 17Ook Gesbon en die ander stede op die platorand: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jahas, Kedemot, Mefaä, 19Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die vallei, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot. 21Hierdie gebied het al die stede op die platorand ingesluit, asook die hele koninkryk van koning Sihon. Hy was die Amoritiese koning wat in Gesbon regeer het en wat saam met die leiers van Midian Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba deur Moses verslaan is. 22Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam die seun van Beor doodgemaak. 23Die wesgrens van Ruben se grondgebied was die Jordaan. Al die dorpe en stede in hierdie gebied was die erfdeel van die families van die stam van Ruben.
Die gebied van Gad
24Aan die families van die stam van Gad het Moses die volgende gebied toegeken: 25Jaser en al die stede van Gilead, die helfte van die Ammoniete se gebied tot by Aroër net suidwes van Rabba; 26van Gesbon af tot by Ramat-Hammispe en Betonim en van Maganajim af tot by die grens van Lo-Debar. 27In die Jordaanvallei het dit Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, ingesluit asook die res van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon. Die westelike grens van hulle gebied was die Jordaan, tot so ver noord as die See van Gennesaret. 28Al die dorpe en stede in hierdie gebied was die erfdeel van die families van die stam van Gad.
Die gebied wat aan die een helfte
van die stam van Manasse toegeken is
29Moses het die volgende gebied aan die een helfte van die stam van Manasse toegeken: 30van Maganajim af, wat die hele gebied van Basan insluit, asook die hele koninkryk van Og, die koning van Basan, en al 60 die tentdorpe van Jaïr in Basan. 31Ook die helfte van Gilead en koning Og se koninklike hoofstede in Basan, naamlik Astarot en Edreï. Dit is die gebied wat die een helfte van die nageslag van Makir seun van Manasse, gekry het.
32Dit is hoe Moses die gebied aan die oostekant van die Jordaan, oos van Jerigo, verdeel het terwyl hulle op die vlakte van Moab gekamp het. 33Die stam van Levi het nie grond as ’n erfporsie gekry nie. Die Here, die God van Israel, sou vir hulle sorg uit dit wat aan Hom behoort het.

Currently Selected:

Josua 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy