YouVersion Logo
Search Icon

Job 7

7
1Job het sy vriende gevra: “Is ’n mens se lewe op aarde nie maar harde werk nie? Dit is soos om elke dag vir iemand te werk wat jou huur. 2Dit is soos ’n werker wat daarna uitsien om net in die koelte te kan staan. Of soos ’n werker wat nie kan wag om sy geld te kry vir die dag se werk wat hy gedoen het nie. 3Vir baie maande al het ek niks om voor te lewe nie. Ek worstel baie nagte van swaarkry deur. 4As ek in die aand bed toe gaan, wens ek dit is al die volgende môre. Maar die nagte is lank en uitgerek. Ek lê en rondrol tot die volgende oggend toe. 5My hele lyf is vol wurms en rowe. My vel word hard en bars oop terwyl sweersel uitloop.”
Job roep na God
6Job het vir die Here gesê: “Daar is nie hoop vir my nie. My lewe gaan vinniger verby as wat die spoel in ’n weefraam heen en weer beweeg. 7Here, onthou dat my lewe soos ’n asemteug is. Ek sal nooit weer goeie dinge sien gebeur of geniet nie. 8U sien my nou net vir ’n klein rukkie. Terwyl U nog so na my sal kyk, sal ek net skielik nie meer daar wees nie. 9’n Wolkie raak so geleidelik weg en verdwyn dan heeltemal. Net so sal ’n mens wees wat doodgaan en nie weer terugkom nie. 10So ’n mens is vir altyd van sy huis af weg. Almal wat hom vroeër geken het, sal van hom vergeet.”
11Job het voortgegaan en gesê: “Ek kan nie meer stilbly nie. Ek wil praat van die swaarkry wat ek deurgaan. Ek wil kla, want ek voel bitter. 12Is ek soos ’n see of ’n seemonster dat U iemand aanstel om my op te pas? 13As ek gedink het dat ek kon gaan lê het en dat my bed my sou troos, het ek dit mis gehad. Ek het gedink dat ek my ellende sou kon vergeet as ek slaap. 14Maar U het vir my drome gegee wat my banggemaak het. U het my verskriklike goed laat sien wat my nagmerries gegee het. 15Dit was so erg dat ek sou verkies het dat iemand my verwurg. Ek sou liewer wou doodgaan as om langer so in my liggaam te bly leef. 16Ek haat my lewe. Ek gaan tog nie vir altyd lewe nie. Laat my tog net alleen. My lewe maak nie meer sin nie.
17“Here, waarom is mense so belangrik vir U? U doen so baie moeite met hulle. 18U kyk elke môre hoe dit met hulle gaan. U toets ook die mens elke oomblik van die dag. 19U kyk nie eens vir ’n klein rukkie van my af weg nie. Hoekom gee U my nie net ’n kans om asem te skep nie? 20As ek verkeerde goed sou gedoen het, wat het ek aan U gedoen? U pas mense soos ’n bewaarder op. Hoekom het U my as ’n teiken gebruik? Hoekom het U my gekies? Het ek vir U ’n las geword? 21Hoekom vergewe U my nie maar die dinge wat ek verkeerd gedoen het nie? Kan U nie maar my skuld wegvat nie? Dit sal nie meer lank wees nie, dan lê ek in my graf. As U my soek, sal ek nie meer daar wees nie.”

Currently Selected:

Job 7: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy