YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 52

52
1Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Gamutal. Sy was die dogter van Jeremia wat van Libna af gekom het. 2Sedekia het net soos Jojakim dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was. 3Die Here was baie kwaad daaroor. Hy het toe die mense van Jerusalem en Juda van Hom af weggestuur na ’n ander land toe.
Sedekia het toe in opstand gekom teen koning Nebukadnesar van Babel. 4Op die vyftiende Januarie, in die negende jaar dat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Die soldate het die stad omsingel en hulle oral rondom die stad ingegrawe. 5Hulle het Jerusalem so afgesny gehou van die buitewêreld tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was.
6Teen die agtiende Julie van dieselfde jaar was daar ’n krisis in die stad. Daar was niks meer kos vir die mense in Jerusalem en in die land nie. 7Toe is daar in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Die Babiloniërs was nou wel oral rondom die stad, maar in die nag het die soldate uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek wat tussen die twee mure was, agter die tuin van die koning, uitgegaan. Toe het hulle oor die veld in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.
8Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia op die vlakte naby Jerigo ingehaal. Daar het sy leër hom gelos en in alle rigtings gespat. 9Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar wat in Ribla was, gebring. Ribla was in die Hamatgebied. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor en besluit wat van hom sou word. 10Daar by Ribla het die koning van Babel Sedekia se twee seuns voor hom doodgemaak. Hulle het ook van die ander leiers van Juda daar doodgemaak. 11Hulle het toe ook Sedekia se oë uitgesteek. Daarna het hulle hom in kettings geboei en hom weggevat Babel toe. In Babel het hulle hom in die tronk gesit. Daar het hy gebly tot sy dood.
Die tempel word verwoes
12Op sewentien Augustus 586 v.C. het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag van koning Nebukadnesar van Babel. Dit was die negentiende jaar dat Nebukadnesar koning was. 13Hy het die tempel, die koning se paleis en al die huise in Jerusalem afgebrand. Hy het al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand. 14Die Babiloniese leër wat saam met Nebusaradan was, het self die mure van Jerusalem afgebreek. 15Nebusaradan, die hoof van die lyfwag van die koning van Babel, het toe van die armste van die mense na Babel toe weggevat. Hy het ook die mense wat nog in die stad oor was en dié wat na koning Nebukadnesar oorgeloop het, na Babel toe geneem. Laastens het hy ook die mense wat die een of ander vaardigheid of vakmanskap gehad het, gevang en na Babel toe gevat. 16Maar Nebukadnesar het van die armste mense toegelaat om in die land agter te bly. Hulle moes die wingerde versorg en die landerye ploeg.
17Die Babiloniërs het ook die koper gevat wat in die tempel was. Hulle het die koperpilare afgebreek en ook die voetstukke waarop die koperwasbakke gestaan het. Hulle het dieselfde gedoen met die groot koperbad. Al hierdie koper het hulle Babel toe weggedra. 18Hulle het ook van die ander voorwerpe saamgevat wat in die tempel gebruik is. Dit het ingesluit potte, grawe, messe en die bakke waarop hulle wierook gebrand het. Verder ook die panne waarin hulle die kole vir die offers geskep het. 19Nebusaradan het ook die kleiner bakkies, potte en bekers gevat wat hulle vir die drinkoffers gebruik het. Al die voorwerpe was van silwer of goud gemaak.
20Van die kopergoed was te swaar om te beweeg. Dit was van die goed wat koning Salomo destyds vir die tempel laat maak het. Dit was goed soos die twee koperpilare, die koperbad, die twaalf bulle onder hierdie bad en die voetstukke van die wasbakke. 21Elkeen van hierdie pilare was net so oor die agt meter hoog en net meer as vyf meter in omtrek. Die pilare was hol binnekant en die wande was so vier vingers dik. 22Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was ongeveer twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het presies net so gelyk. 23Aan die kante was daar 96 granate en as die in die vlegwerk bo bygetel word, in totaal 100 granate.
24Nebusaradan het vir Seraja, die hoëpriester, asook Sefanja, wat naas hom die belangrikste priester was, gevang en saam met hom gevat. Hy het ook drie van die wagte gevang wat die ingange van die tempel opgepas het. 25Party van die mense het in Jerusalem probeer wegkruip. Van hierdie mense het Nebusaradan ’n offisier van die Judese leër en sewe van die koning se raadgewers gevang. Dan het hy ook nog die sekretaris van die offisier wat daarvoor verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf gevange geneem. Laastens het hy 60 mense uit die platteland wat in Jerusalem was, gevang en met hom saamgevat. 26Nebusaradan het al hierdie mense na koning Nebukadnesar in Ribla gebring. 27Die koning van Babel het hulle almal daar in Ribla in die Hamatgebied laat doodmaak. So is die mense van Juda gevange geneem. Hulle is uit hulle land weggevat en na ’n vreemde land gebring.
28In totaal was die aantal mense wat as gevangenes na Babel weggevat is, die volgende: 3 023 Jode in die sewende jaar dat Nebukadnesar koning was.
29In Nebukadnesar se agtiende jaar as koning het hy nog 832 mense uit Jerusalem weggevat.
30In sy 23ste jaar as koning het hy Nebusaradan, die hoof van sy lyfwag, na Juda gestuur. Hy het nog 745 mense weggevat. In totaal is 4 600 mense gevange geneem.
Jojagin word vrygelaat
31In die 37ste jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in Babel was, het Ewil-Merodak die nuwe koning in Babel geword. Hy was Jojagin goedgesind en het hom uit die tronk laat kom. Dit het gebeur op die 31ste Maart 561 v.C. 32Ewil-Merodak het baie vriendelik met koning Jojagin gepraat. Hy het Jojagin beter behandel as al die ander konings wat in Babel gevange gehou is. 33Jojagin hoef ook nie meer sy tronkklere te gedra het nie. Hy is ook toegelaat om vir die res van sy lewe saam met die koning te eet. 34Die koning van Babel het ook vir Jojagin ’n gereelde toelaag gegee. Dit was om hom te help om te betaal vir wat hy elke dag nodig gehad het. Hy sou dit kry so lank as wat hy leef.

Currently Selected:

Jeremia 52: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy