YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 59

59
Julle sonde is die probleem
1Dit is nie of die Here julle nie kan bevry nie. Dit is ook nie dat Hy nie na julle wil luister nie. 2Dit is oor julle oortredings dat Hy niks van julle wil weet nie. Julle en julle God het vreemd geword vir mekaar. Julle sonde het gemaak dat Hy die rug vir julle gedraai het. Hy wil nie eers meer na julle luister nie.
3Julle hande is vol bloed. Misdaad klou aan julle vingers. Julle verkoop leuens. Julle beplan slegte dinge. 4Niemand is meer eerlik as hy iets sê nie. Die uitspraak van die hof kan jy nie vertrou nie. Elkeen reken op beloftes wat nooit nagekom word nie. Jy kan niemand meer op sy woord neem nie. Alles loop uit op bedrog. Al wat van iemand se woorde kom, is kwaad. 5Dit lê slangeiers en spin ’n spinneweb vir spinnekoppe. Die een wat hierdie eiers eet, gaan daarvan dood. Breek jy dit oop, kruip daar slange uit. 6Met die spinnerak van hulle woorde kan jy nooit vir jou klere maak nie. Wat hulle doen, is goed vir niks. Trouens, al wat van hulle geknoei kom, is misdaad. Hulle hande bring net geweld. 7Hulle hardloop agter die kwaad aan. Hulle huiwer nie ’n oomblik om iemand dood te maak nie. Hulle dink skelm dinge uit. Hulle laat ’n spoor van verwoesting agter hulle waar hulle gaan. 8Hulle ken nie so iets soos vrede nie. Op hulle pad bestaan daar nie so iets soos regverdigheid nie. Hulle paaie is vol kronkels en draaie. Dié wat saam met hulle loop, kom nooit tot rus nie.
Ons lewens is in ’n gemors
9Daar is niemand onder ons wat reg doen nie. Ons ken nie meer regverdigheid nie. Ons wag verniet dat dit moet verander. Alles bly net soos dit is. Ons strompel maar voort in die stikdonker. 10Ons loop soos blindes voel-voel teen ’n muur. Ons tas rond soos mense sonder oë. Ons val oor ons voete asof ons in die donker loop terwyl dit helder dag is. Tussen mense wat springlewendig is, is ons soos dooie lyke. 11Ons is almal soos bere wat ongeduldig brom en duiwe wat in hulle kroppe kir. Ons sit en wag om bevry te word, maar daar gebeur net mooi niks nie. Ons redding bly maar net weg.
Geregtigheid het verdwyn
12Ons het al so baiekeer teen die Here in opstand gekom. Ons oortredings kla ons aan. Dit maal in ons gedagtes. Ons is bewus van alles wat ons verkeerd gedoen het. 13Ons het ons teen die Here verset. Ons het gemaak asof die Here nie bestaan nie. Ons het die rug vir ons God gedraai. Ons het oor geweld en bedrog begin praat. Ons het leuens uitgedink en dit vir almal vertel. 14Daar is nie meer regverdige uitsprake in die hof nie. Waarheid het tot ’n val gekom. Eerlikheid mag nie eers meer in die hofsaal inkom nie. 15Die waarheid het weggeraak. Iemand wat probeer om kwaad te vermy word daarvoor vervolg.
Die Here gryp in
Die Here het gesien wat gebeur. Dit is vir Hom heeltemal verkeerd dat daar nie meer geregtigheid onder ons is nie. 16Die Here is verbaas om te sien dat daar niemand was wat ingryp om dinge te probeer verander nie. Hy gaan daarom self optree om toe te sien dat daar geregtigheid kom. 17Hy gaan regverdigheid aantrek soos ’n soldaat sy uniform. Hy gaan bevryding op sy kop sit soos ’n ysterhelm. Hy trek die klere van vergelding aan. Hy gaan sy woede aan sy lyf dra soos ’n jas. 18Hy gaan elkeen terugbetaal vir wat hy gedoen het. Hy sal sy teëstanders terugbetaal met woede en sy vyande met hulle eie dade. Hy sal die lande wat oorsee is, volgens hulle verkeerde optrede vergeld. 19Dan sal almal in die wêreld respek hê vir die Here. Hy sal kom soos ’n bruisende rivier wat deur ’n stormwind aangejaag word. 20Die Here sal na Sion kom om almal te bevry wat hulle verset teen die Here laat staan het, so het die Here gesê. 21Ek gaan ’n ooreenkoms met hulle aan, sê die Here: My krag sal by julle bly. Wat Ek vir julle gesê het, sal by julle en julle nageslag en ook hulle kinders bly, van nou af en vir altyd.

Currently Selected:

Jesaja 59: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy