YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 55

55
Kom kry by die Here wat julle nodig het
1Laat almal wat dors het, hier na die water toe kom. Ook dié wat nie geld het nie, kan kom. Kom koop en kom eet. Julle hoef selfs nie eens geld te hê nie. Kom kry wyn en melk verniet. 2Waarom betaal julle vir iets wat julle nie krag kan gee nie? Waarom span julle julleself in vir iets wat julle nie versadig kan maak nie? Luister baie goed na My sodat julle iets kan inkry wat goed is vir julle. Luister na wat Ek sê sodat julle voedsame kos kan inkry. 3Spits julle ore en kom na My toe. Luister mooi dat julle kan lewe.
Ek wil met julle ’n vaste ooreenkoms sluit. Ek wil vir julle alles gee wat Ek vir Dawid belowe het. 4Ek het hom ’n getuie gemaak vir die nasies. Hy was ’n leier wat oor die nasies regeer het. 5Julle sal ook nasies beveel om na julle toe te kom, al het julle hulle nie voorheen geken nie. Nasies wat vroeër nie eers van julle geweet het nie, sal na julle toe aangehardloop kom. Hulle sal dit doen ter wille van die Here julle God. Hulle sal kom ter wille van die hoë God van Israel wat aan julle eer bewys het.
6Vra wat die Here van julle wil hê terwyl dit nog moontlik is. Bid tot die Here noudat Hy naby is. 7Die goddelose moet die verkeerde manier waarop hy lewe, laat staan. Die sondaar moet afsien van sy verkeerde gedagtes. Hy moet na die Here toe terugkom. Die Here sal hom graag terugontvang. Hy moet na ons God toe kom. Ons God sal hom alles vergewe.
Ek is heeltemal anders as julle
8Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle dit doen. 9Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink.
10Die reën val op die aarde en die sneeu val uit die lug. Dit gaan nie weer terug na waar dit vandaan kom nie. Dit bly in die grond en laat die plante groei. Dit laat die plante saad maak om te oes. Dit gee kos om te eet. 11Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor Ek dit gestuur het.
12Julle sal baie bly wees wanneer julle uit Babel weggaan. Ek sal julle in vrede laat weggaan. Die berge en die heuwels sal van vreugde sing as julle verbykom. Die bome in die veld sal hande klap van blydskap. 13Waar daar doringbosse was, sal daar sipresbome opkom. In die plek van onkruid sal daar mirtebome groei. Dit sal ’n teken wees van die grootheid van die Here. Niemand sal dit ooit kan ontken nie.

Currently Selected:

Jesaja 55: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy