YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 33

33
Die Here sorg vir die volk in moeilike tye
1Jou ondergang wag op jou, verwoester, want al het niemand jou verwoes nie, het jy nie omgegee om ander nasies uit te roei nie. Jy verwag dat ander jou moet respekteer en hulle beloftes moet nakom, maar jý leef van leuens en ontrou. Wel, nou is dit jou beurt om verraai en vernietig te word, net soos jy met die ander nasies gedoen het. 2Here, help ons, want ons het ons hoop op U gevestig! Beskerm ons elke dag en red ons as ons in die moeilikheid beland. 3Slegs die klank van u stem is genoeg om die vyand uitmekaar te laat spat en te laat vlug. 4Die mense sal op die buit wat hulle agterlaat, toesak en dit plunder soos ’n swerm sprinkane op ’n groen land.
5Die Here is groot en Hy regeer oor die hele aarde. Hy sal sorg dat daar reg en geregtigheid in Jerusalem geskied. 6In daardie tyd sal Hy die fondament wees waarop julle met vertroue kan bou. Hy sal julle oorlaai met ’n skat van wysheid en kennis wat tot julle verlossing sal lei. Maar die sleutel tot hierdie skat is die ontsag wat julle vir die Here het.
Krisistye
7Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie. 8Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie. 9Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan.
Die Here waarsku sy vyande
10Nou gaan Ek ingryp, sê die Here, Ek sal julle wys hoe magtig Ek is! 11Al die planne wat julle gemaak het, is nutteloos, julle sal niks regkry nie. Die verskriklike goed waarmee julle ander nasies gedreig het, sal omgekeer word en soos ’n verwoestende vuur op julle neerkom. 12Julle mense sal totaal vernietig word soos die klippe wat verbrand word om kalkpoeier te maak. Hulle sal tot as verbrand word soos ’n hoop droë doringtakke wat aan die brand gesteek word. 13Vertel vir al die volke wat Ek gedoen het, of hulle naby is of ver, sodat hulle my mag sal erken.
14Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?” 15Slegs iemand wat ’n eerlike lewe lei en die waarheid praat, wat nie ander afpers om geld te maak nie en niks met omkopery te doen het nie, het die reg om naby die Here te kom. Moenie eers na iemand luister wat ’n moord of misdaad beplan nie. 16As ’n mens so lewe, sal jy so veilig wees soos iemand wat in ’n sterk fort bly wat van klip gebou is en hoog op ’n berg staan met ’n oorvloed kos en water.
’n Toekoms
17Met julle eie oë sal julle ’n koning sien wat in al sy koninklike majesteit oor ’n groot en uitgestrekte land regeer. 18Die gedagte aan die tye van vreemde belastinggaarders en spioene wat die stad se militêre mag kom verken het, sal net ’n vae herinnering wees. 19Julle sal daardie vermetele volk met die taal wat julle nie kan verstaan nie, nooit weer sien nie. 20Maar kyk na Jerusalem, die stad waarin die feeste vir die Here gehou word. Jerusalem, ’n veilige, permanente blyplek. Dit is soos ’n tent wat nooit geskuif word nie, waarvan die tentpenne stewig en vas in die grond ingekap is en die toue wat dit regop hou, nooit breek nie. 21Daar sal die Here vir ons sy mag wys. Ons sal langs breë riviere en strome bly, maar daar sal nie vyandige skepe op vaar wat ons kan aanval nie, 22want die Here is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Hy sal ons red. 23Die vyand se skepe sal nutteloos wees, die toue wat die maste stewig en regop moet hou, sal los hang en die seile sal nie gespan kan word nie. 24Nie een van die stad se inwoners sal siek wees nie. En die Here sal almal wat in Jerusalem bly, se sonde vergewe.

Currently Selected:

Jesaja 33: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy