YouVersion Logo
Search Icon

Hosea 2

2
Die moeilike pad na herstel
1“Raas met julle ma. Baklei met haar. Ek gaan van haar skei. Sy moet ophou om agter ander mans aan te loop. Sy moet ophou om My te verkul. 2As sy nie ophou nie, gaan Ek haar dwing om al haar klere uit te trek sodat almal vir haar kan lag. Ek gaan haar skaam maak. Ek gaan haar poedelkaal laat uittrek soos die dag toe sy gebore is. Ek gaan haar eensaam maak, soos die woestyn. Ek gaan haar maak soos ’n plek in die veld waar niemand kom nie, omdat daar nie water is nie. Ek sal haar laat doodgaan van die dors. 3Ek sal nie haar kinders liefhê nie. Hulle is nie my kinders nie. Hulle is kinders wat sy by ander mans gehad het. 4Hulle ma was ’n prostituut. Sy het haar skandelik gedra. Sy het hulle kinders verwag. Sy het gesê: ‘Ek wil agter die mans aangaan wat by my kuier. Hulle gee vir my drank en kos. Ek kry by hulle klere en reukwater.’”
Sy moet alleen bly
5“Ek pak doringtakke rondom haar. Ek bou ’n klipmuur rondom haar om haar by die huis te hou. 6Sy sal agter ander mans wil aangaan. Dit sal haar niks help nie, want sy sal hulle nie in die hande kry nie. Sy sal soek waar hulle is, maar sy sal hulle nie opspoor nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my eie man toe. Dit was beter toe ek by hom was.’ 7Sy het nooit raakgesien dat dit Ek was wat vir haar koring en wyn en olie en geld gegee het om van te leef nie. Selfs die goud wat sy vir die afgod Baäl gegee het, het sy by My gekry.”
Geen verdere oes nie
8“Ek gaan sorg dat daar nie koring is om te oes in die oestyd nie. Daar sal ook nie druiwe wees om te pluk nie. Ek gaan die wol en die materiaal terugvat wat Ek vir haar gegee het om vir haarself klere te maak. 9Ek gaan haar kaal laat staan voor die mans met wie sy deurmekaar is, dat sy kan skaam kry. Niemand sal lus wees om weer iets met haar te doen te hê nie. 10Ek gaan haar rinkinkery stopsit. Ek maak ’n einde aan haar partytjies wat sy vir die afgode hou. Die feeste op die nuwemaan en op die sabbat sal op ’n einde kom.
11“Sy het gespog dat die mans wat by haar gekuier het, haar betaal het deur vir haar druiwe- en vyebome te plant. Ek gaan dit wortel en tak uitroei. Ek gaan dit bosse maak waar die wilde diere sal kom vreet. 12Ek gaan haar straf oor die tyd toe sy vir die Baäls offers gebring het. Ek gaan haar laat betaal vir die tyd toe sy haar mooi gemaak het en juwele aangesit het om agter die mans aan te loop en My net so laat staan het,” sê die Here.
Na die woestyn
13“Kyk net wat Ek gaan doen. Ek gaan haar ompraat om saam met My na die woestyn toe te gaan. Ek gaan daar vir haar mooi dinge sê wat sy graag wil hoor. 14As ons daar is, gaan Ek haar wingerde vir haar teruggee. Ek gaan die Akorlaagte verander. Daar waar sy hartseer was oor wat gebeur het, daar gaan Ek vir haar hoop gee vir die toekoms. Sy gaan weer vir My lief word soos vroeër toe sy nog jonk was. Dit gaan wees soos in die dae toe Ek haar uit Egipte gered het.
15“Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy vir My sê: ‘Jy is my man.’ Jy sal My nie weer ‘My leier Baäl’ noem nie. 16Jy sal nie eens meer die naam van Baäl noem nie. Jy sal skoon vergeet wat sy naam was. 17Ek gaan my volk teen die wilde diere beskerm. Ek gaan op daardie dag ’n ooreenkoms sluit met die wilde diere van die veld, met die roofvoëls in die lug en met die ongediertes op die grond om my mense te spaar. Ek sal die gevaar van die oorlog wegvat. Daar sal nie meer wapens wees om mee oorlog te maak nie. Hulle sal veilig in hulle land kan woon.
18“Ek sal joune wees vir altyd. Tussen My en jou sal alles reg loop. Ons sal aan mekaar getrou wees en mekaar liefhê. 19Ek sal altyd aan jou getrou bly. Daaraan sal jy weet dat Ek die Here is.
20“Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek doen waarvoor hulle gebid het. Ek sal wolke in die lug gee. Dit sal reën op die grond wat so dors was. 21Die aarde sal die reënwater opsuig. Die aarde sal dan koring en wyn en olie gee. Ek sal na die gebed van Jisreël luister. Die oes wat uit die land uit kom, sal vir hulle kos gee. 22Ek sal jou terugvat Jisreël toe. Ek sal jou daar laat bly. Ek sal lief word vir Lo-Rugama vir wie Ek nie omgegee het nie. Ek sal vir Lo-Ammi wat nie aan My behoort nie, sê: ‘Nou is jy weer my volk.’ En hy sal vir My sê: ‘My God.’”

Currently Selected:

Hosea 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy