Hosea 1
1
1Die Here het Hosea geroep om sy boodskapper te wees. Sy pa was Beëri. Hy het die Here se boodskap gebring in die tyd toe eers Ussia en daarna Jotam, toe Agas en daarna Hiskia die konings van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was die hele tyd die koning van Israel in die noorde.
Trou met ’n vrou wat rondloop
2Toe die Here Hosea geroep het om sy boodskap vir sy volk te gaan gee, het die Here vir hom gesê: “Gaan vat vir jou ’n vrou wat rondloop. Sy sal kinders hê, al is sy nie met ’n man getroud nie. Sy is net soos Israel wat wil rondloop en nie by die Here wil bly nie.”
3Hosea het toe vir Gomer gevat. Sy was Diblajim se dogter. Na ’n tyd het sy ’n baba verwag en ’n seuntjie is toe gebore. 4Die Here het vir Hosea gesê: “Die seuntjie se naam moet Jisreël wees. Een van die dae gaan Ek vir koning Jehu straf omdat hy die mense by Jisreël vermoor het. Dit is nou klaarpraat met die ryk van Israel. 5Ek gaan Israel se weermag in die vlakte van Jisreël op sy knieë dwing.”
6Gomer het weer verwag en ’n dogtertjie gehad. Die Here het vir Hosea gesê: “Haar naam is Lo-Rugama. Dit beteken ‘Gee nie meer om nie’. Ek gee nie meer vir Israel om nie. Ek gaan nie weer hulle sonde vergewe nie. 7Maar Ek sal steeds lief bly vir die mense van Juda in die suide. Ek sal hulle red. Daar sal nie ’n oorlog nodig wees om hulle van hulle vyande te bevry nie.”
8Toe sy opgehou het om Lo-Rugama te borsvoed, het Gomer weer ’n baba verwag en toe ’n seuntjie gehad. 9Hierdie keer het die Here gesê: “Sy naam is Lo-Ammi. Dit beteken ‘Nie my volk nie’, want julle is nie meer my volk nie en Ek is nie meer julle God nie.”
Maar nogtans ...
10“Nogtans sal die Israeliete so baie word soos die sandkorrels van die see wat ’n mens nie kan meet of kan tel nie. Ek sê nou vir hulle: julle is nie meer my volk nie. In die toekoms sal Ek weer vir hulle sê: julle behoort aan God wat altyd lewe. 11Die suidelike ryk van Juda en die noordelike ryk van Israel sal dan weer bymekaar uitkom. Hulle sal saamkom en net een leier hê. By Jisreël sal hulle op daardie dag saam optrek na hierdie land toe. Hulle sal hier geplant word soos ’n boom in die grond. 12Julle sal dan vir julle broers sê: ‘Ammi! Jy is nou weer die Here se volk.’ Julle sal vir julle suster sê: ‘Rugama! Die Here gee nou weer vir jou om.’”
Currently Selected:
Hosea 1: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.
HOSEA 1
1
1Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas.
Die Israeliete is ontrou aan die Here
2'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea.
Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.
3Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak. 5Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte.
6Gomer het weer swanger geraak en sy het 'n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê:
Noem haar Sonder-ontferming,
want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm
en hulle sonde vergewe nie.
7Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.
8Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en 'n seun gekry. 9Die Here het gesê:
Noem hom Nie-my-volk-nie,
want julle is nie my volk nie
en Ek is nie julle God nie.
'n Nuwe toekoms vir Israel
10Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.” 11Dan sal die Judeërs en die Israeliete weer een word en vir hulle een leier aanwys en die beheer van die land oorneem. Daardie dag sal Jisreël se val groot wees.
12Sê maar solank vir julle broers: “My volk,” en vir julle susters: “Dié vir wie daar ontferming is.”
Currently Selected:
:
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.