Daniël 12
12
Die einde van die tyd
1“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. 2Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef. 3Die goeie leiers sal in daardie tyd wees soos ’n helder dag sonder wolke in die lug. En dié wat mense op die regte pad gelei het, sal dan vir altyd skitter soos die sterre van die hemel. 4Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou. Maak die boek toe en verseël dit sodat niemand dit kan oopmaak nie. So moet dit bly tot die laaste dae hier op aarde aangebreek het. Baie mense sal probeer agterkom wat aangaan, maar dit sal hulle niks help nie.”
5Toe sien ek twee ander figure aan weerskante van die Tigrisrivier staan. 6Een van hulle vra toe vir die man met die linneklere aan wat so ’n entjie stroomop gestaan het: “Hoe lank nog voordat hierdie verskriklike dinge ophou?”
7Hy het toe albei sy arms na die hemel toe uitgesteek en ’n plegtige belofte afgelê in die Naam van Hom wat ewig lewe. Hy het gesê: “Vir die hele tyd wat reeds vasgestel is. Hierdie dinge sal ophou wanneer God se volk vernietig is.”
8Ek het gehoor wat hy sê, maar nie mooi verstaan nie, en daarom het ek vir hom gevra: “Maar hoe gaan dit alles eindig?”
9Hy het toe vir my gesê: “Jy moet gaan, Daniël, want hierdie woorde moet geheim gehou en weggesteek word tot die einde kom. 10Baie mense sal tot bekering kom. Hulle sal op ’n nuwe manier begin leef en in hulle geloof versterk word as gevolg van hierdie swaar tye. Maar die goddelose mense sal nog erger aangaan en nog verder wegdwaal. Gelukkig sal die goeie leiers verstaan waaroor dit gaan. 11Van die tyd af dat die mense verbied word om die ware godsdiens te beoefen, vandat hulle die gruwelike afgodsbeeld daar op die altaar in die tempel neersit, daardie ding wat tot verwoesting lei, sal 1 290 dae verloop. 12Dié wat getrou bly aan God totdat die 1 335 dae verby is, sal gelukkig wees. 13Maar jy moet volhard in jou geloof tot die einde toe. Dan sal jy doodgaan, maar jy sal opstaan en jou hemelse beloning kry aan die einde van die tyd.”
Currently Selected:
Daniël 12: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.
DANIËL 12
12
1“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. 2Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. 3Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.
4“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.”
5Ek, Daniël, het toe twee ander persone by die Tigrisrivier sien staan, een aan die duskant en een aan die anderkant. 6Een van hulle het aan 'n man wat linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal hierdie onbegryplike gebeurtenisse nog aanhou?”
7Toe hoor ek die man praat wat die linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het. Hy het sy regter- sowel as sy linkerhand na die hemel toe opgesteek en 'n eed afgelê by Hom wat ewig lewe, en het geantwoord: “Die hele vasgestelde tyd. Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is, sal al hierdie dinge ophou.”
8Ek het dit gehoor maar dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, waarop gaan dit alles uitloop?”
9Toe sê hy: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe. 10Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan. 11Van die tyd dat die daaglikse offer afgeskaf is en die ding opgerig is wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sal daar twaalf honderd en negentig dae verloop. 12Dit sal goed gaan met wie geduldig bly tot dertien honderd vyf en dertig dae verby is. 13Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”
Currently Selected:
:
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.