YouVersion Logo
Search Icon

Habakuk 3

3
Habakuk se gebed
1Hier is die gebed wat die profeet Habakuk gebid het: 2Here, ek was verstom toe ek gehoor het van al die dinge wat U gedoen het. Ek bid dat U nou in ons nood weer hierdie buitengewone dinge sal doen. Here, wees genadig, selfs al is U vir ons kwaad.
3Die Here was al in die verlede by Israel betrokke toe hulle nog deur die woestyn getrek het. Kyk ’n mens na die hemel en die aarde, dan sien jy iets van die groot en heerlike teenwoordigheid van die Here. 4As ons sy teenwoordigheid sou kon beskryf, sou dit soos helder lig wees wat uitgestraal word en soos weerlig wat blits. Iewers agter die ligglans is sy groot krag weggesteek. 5Die teenwoordigheid van die Here veroorsaak vir sommige mense die dood. 6As hy kom, is dit soos ’n aardbewing wat ’n mens beangs maak. Oeroue berge en heuwels bars uitmekaar en verkrummel van die geskud, niks word onaangeraak gelaat nie. 7Ek kon die uitwerking van die Here se teenwoordigheid ook op van die ander volke sien. Hulle het in angs aan die bewe gegaan.
8Sommige mense glo dat riviere en die see sterk magte is wat vyande van die Here is. Die Here is kwaad hieroor. Hy sal daarom soos ’n goed gewapende soldaat veg teen hierdie magte wat hulle gesag uitdaag. Hy sal wen! 9Hy is reg vir sy vyand en sy wapens sal vir seker sorg dat Hy die geveg sal wen. Hy breek die aarde oop vir die riviere om te vloei. 10Die natuur reageer op sy teenwoordigheid. Berge bewe, swaar reën spoel in sterk strome af en die ondergrondse water dreun en bruis hoog op. 11Ook die son en die maan lyk dof teen die blitsende en vernietigende teenwoordigheid van die Here. 12In sy woede trek Hy oor die aarde om die nasies te straf. 13Die Here se doel was om Juda te verlos en die koning wat Hy oor hulle aangestel het te red. Hy sal die bevelvoerder van die goddelose mense verslaan en sy mag verbreek. 14Toe die soldate van die vyand op die volk van die Here afgestorm het om hulle uitmekaar te jaag, het die Here die bevelvoerder deur sy eie wapen laat sterf. Hulle het gedink Israel is ’n maklike prooi. 15Maar Hy sal sy volk verlos. Die Here tref die see met sy perde sodat die magtige waters opbruis, net soos destyds by die Rietsee met die uittog uit Egipte. Toe het Hy sy volk gered.
16Toe ek hierdie dinge gehoor het, het ek aan die ruk gegaan en my lippe het gebewe omdat ek bang was. ’n Lam gevoel het oor my gekom en my bene het onder my padgegee. Ek het besluit dat ek rustig en stil sal wag vir die dag wanneer die Here se straf gaan kom oor die Babiloniërs wat Juda ingeval het.
17My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie; al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie; of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, 18sal ek die Here met ’n hart vol blydskap dien. Ek het al ervaar hoe die Here my uit moeilike omstandighede red. 19Die Here wat as koning regeer, gee vir my die krag wat ek nodig het. Hy maak dit vir my moontlik om probleme sonder moeite te kan hanteer. (’n Nota vir die afrigter van die koor: Snaarinstrumente moet saam met die gebed gespeel word).

Currently Selected:

Habakuk 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy