Parallel
8
Die lewe in die ark
1God het aan Noag en sy mense in die ark gedink, ook aan al die diere saam met hom. God het toe ’n sterk wind oor die watermassa gestuur en die watervlak het stadig maar seker begin sak. 2Al die onderaardse fonteine het opgehou om te vloei. Al die donker reënwolke het verdwyn en dit het ophou reën. 3Bietjie vir bietjie het die water toe begin wegsak. Na 150 dae het die watervlak al soveel gesak dat die ark by die berg Ararat gaan staan het. 4Dit het op die sewentiende dag van die sewende maand gebeur. 5Tot die tiende maand het die watervlak bly daal sodat ’n mens al die bergpieke in die verte kon sien. 6Nog 40 dae later het Noag die ark se luik oopgemaak en ’n kraai laat uitvlieg. 7Dit het heen en weer oor die water gevlieg totdat die water uiteindelik opgedroog het.
8Noag wou weet of die aarde al droog was; daarom het hy ’n rukkie later ’n duif uitgestuur. 9Die duif kon nêrens gaan sit nie omdat daar oral water was en het na die ark toe teruggevlieg. Noag het sy hand uitgesteek en die duif het daarop gaan sit. Hy het die duif in die ark gebring. 10’n Week later het hy weer die ark se luik oopgemaak en die duif uitgestuur. 11Teen die aand se kant het die duif teruggekom met ’n vars geplukte olyfblaartjie in sy bek. Toe het Noag geweet die water het in die grond weggesak. 12Hy het egter nog ’n week gewag en toe weer die duif uitgestuur. Dit het nie weer teruggekom nie.
13In Noag se 601ste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die water al so weggesak dat ’n mens die droë grond kon sien. 14Noag het die ark se deur oopgemaak en gesien die aarde is droog. 15Dit was die 27ste dag van die tweede maand. 16God het toe vir Noag gesê: “Kom maar uit die ark uit, jy en jou vrou, jou seuns en hulle vroue. 17Bring ook al die diere saam met jou uit, alles wat lewe, die voëls en vee en kruipende diere. Laat hulle uitkom en op die aarde rondbeweeg sodat hulle vrugbaar kan word en kan vermeerder.”
18Noag en sy mense het toe uitgestap. 19Agter hulle het die diere volgens hulle spesies uitgekom.
20Noag het toe ’n altaar vir die Here gebou en hy het van die rein diere en voëls as brandoffer vir die Here geslag. 21Toe die Here die heerlike geur ruik, het Hy gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek oor die mens nie, want die mens is sleg van kleins af. Ek sal nooit weer so iets verskrikliks doen nie. Nooit weer sal Ek mens en dier so totaal uitwis nie.
22“So lank as wat die aarde bestaan, sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou bestaan nie.”