YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 6

6
Die reuse
1Toe die mense op die aarde meer en meer geword het, het hulle ook mooi dogters gekry. 2Sommige van die wesens in die hemel het hierdie dogters se skoonheid raakgesien en met hulle kom trou. Hulle het vir hulle as vroue gevat wie hulle wou. 3Toe sê die Here: “My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie. Hy is tog maar net ’n sterflike wese. Hy sal nie langer as 120 jaar leef nie.”
4In hierdie tyd was daar ook reuse op aarde. Hulle was die kinders van die hemelwesens en die vroue van die aarde. Hierdie reuse was die heldefigure van die oertyd; bekende mans waaroor die mense stories vertel het.
Voorspel tot die groot vloed
5Die Here het gesien dat die mens sleg was. Alles waaraan hy gedink het of beplan het, was deurtrek van boosheid. 6Toe het die Here spyt gekry dat Hy die mens gemaak het. Sy hart was seer. 7Op ’n dag het Hy toe gesê: “Ek gaan alles op aarde verwoes; die mense wat Ek gemaak het asook die diere: al die wilde diere, alles wat kruip en alles wat in die hemel rondvlieg. Ek is bitter jammer dat Ek ooit mense en diere gemaak het.”
8Een mens het egter alles vrygespring: dit was Noag. Die Here was lief vir hom.
9Van Noag kan ’n mens net mooi dinge sê. Hy was ’n goeie man. Hy het die regte dinge gedoen en naby aan die Here geleef.
10Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.
11In die oë van God was die aarde vol boosheid. Oral was daar korrupsie en wetteloosheid. 12God het geweet wat op die aarde aangaan. Hy het gesien hoe mens en dier dag vir dag net slegter word. 13God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig.
14“Bou nou vir jou ’n boot van goferhout. Maak aan die binnekant sommer ’n klomp kamers. Sorg dat jy alles waterdig maak. Smeer dit binne en buite goed met pik. 15So moet jy dit bou: die lengte van die ark moet 135 meter wees, sy breedte 22,5 meter en sy hoogte 13,5 meter. 16Maak ook vir die ark ’n dak met ’n spitsnok van 45 sentimeter. Sit ’n deur aan die kant van die ark in. En verdeel die ark in ’n onderste, ’n middelste en ’n boonste verdieping.
17“Ek gaan ’n groot vloed oor die aarde loslaat. Die water gaan alles vernietig. Alle mense en diere, ja, alles wat lewe, sal doodgaan. Niemand sal hierdie ramp oorleef nie. 18Maar met jou sal Ek ’n ooreenkoms maak. As die water kom, moet jy en jou familie in die ark ingaan, maar julle moet ’n klomp diere saamneem. 19Van alles wat leef, moet jy twee-twee saam met jou die ark invat. Sorg dat dit ’n mannetjie en ’n wyfie is. 20Van alle soorte voëls, van alle soorte vee en van alles wat op die aarde kruip, moet jy twee vat. Hulle moet saam met jou in die ark bly.
21“Jy moet ook vir genoeg kos sorg. Jy moet genoeg saamvat en in die ark wegpak sodat julle en die diere altyd kos sal hê om te eet.” 22Noag het dit toe gedoen, net soos God vir hom gesê het.

Currently Selected:

Genesis 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy