YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 25

25
Geskenke vir God
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet vir My geskenke na my blyplek toe bring. Neem die bydrae van almal wat graag wil gee. 3Die geskenke kan van goud, silwer of brons gemaak wees; 4van blou, pers of bloedrooi wol, van linne, bokhaar, 5rooigekleurde velle of gebreide velle, of van doringhout. 6Dit kan olie vir lampe wees, of balsemgom wat gebruik kan word in salfolie of in geurige offers van wierook. 7Dit kan ook onikssteen of ander halfedelstene wees. Daarmee kan die klere en die sak versier word wat die leier van die mans dra wanneer hy by my blyplek vir My offers bring. Elkeen kan self kies wat hy wil gee. Enigiets wat hier genoem is, moet julle aanvaar as ’n geskenk wat vir My gebring word.”
Die Here se blyplek waarheen alles gebring word
8“Israel moet vir My ’n tent maak waarin Ek tussen hulle kan kom bly. 9Dit moet gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek hier op die berg vir jou wys. Julle moet ook al die verskillende goed maak wat by die tent moet kom.”
Die ark in die tent
10“Julle moet ’n ark van akasiahout maak. Dit moet 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed en hoog wees. 11Dit moet aan die binnekant en aan die buitekant met suiwer goud oorgetrek word. Aan die buitekant moet dit ook ’n versierde goue rand hê. 12Jy moet vier goue ringe maak waardeur drastokke gesteek kan word. Die ringe moet aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit word. Daar moet dus twee stelle ringe aan die voorkant en twee aan die agterkant wees. 13Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe kan pas. Trek hulle ook met goud oor. 14Steek dan die drastokke deur die ringe van die ark sodat julle dit kan dra. 15Hulle moet altyd in die ringe bly. Julle moet dit nie weer daar uithaal nie. 16Die plat klippe wat Ek vir jou sal gee, sal die getuienis van ons ooreenkoms wees. Hulle moet binne-in die ark gebêre word.
17“Jy moet ook ’n deksel maak wat op die ark pas. Dit moet net so groot soos die ark wees: 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. Dit moet van suiwer goud gemaak word. 18Maak ook twee beelde van hemelse figure met vlerke wat uit goud gevorm is. 19Hulle moet bo-op die deksel vasgesit word met hulle gesigte na mekaar toe. 20Hulle vlerke moet oor die deksel uitgesprei wees asof hulle dit beskerm. Hulle moet afkyk op die deksel. 21Jy moet die getuienis van die ooreenkoms wat Ek aan jou gaan gee, binne-in die ark sit. Dan moet jy die deksel bo-op die ark pas. 22Ek sal jou by daardie ark ontmoet. Ek sal daar met jou van die deksel af praat. Ek sal van tussen die figure met die vlerke op die ark vir jou alles sê wat Ek van die Israeliete verwag.”
Die tafel waarop brode neergesit word
23“Jy moet ook ’n tafel van akasiahout maak. Dit moet 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed wees. Dit moet 70 sentimeter hoog wees. 24Trek dit met suiwer goud oor en sit ’n goue rand reg rondom daaraan vas. 25Slaan dan ’n lys reg rondom die tafel vas en sit ook daaraan ’n goue rand vas. 26Jy moet ook vir die tafel ringe van goud maak soos vir die ark waardeur drastokke gesteek kan word. 27Die ringe moet aan die lang kante op die hoeke net onder die lys vasgesit word. Twee stokke moet daardeur gesteek kan word om die tafel te dra. 28Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe pas. Hulle moet ook met goud oorgetrek word. Die tafel kan aan hulle gedra word. 29Maak ook skottels en bakke waarin die geurige wierook kan brand. Maak ook houers en bakke van suiwer goud om vir die offers van wyn en olie te gebruik. 30Julle moet sorg dat daar altyd brood neergesit word wat vir My geoffer word waar Ek dit kan sien.”
Die ligstaander
31“Jy moet ook ’n goue ligstaander maak. Sy voetstuk en steel moet uit een stuk goud gevorm word. Dit moet met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier wees. 32Daar moet ses arms uit die steel kom, drie aan die een kant en drie aan die ander kant. 33Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam vertak, moet daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare wees. 34Die steel self moet vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare aan die bokant hê. 35Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, moet daar ’n goue blomknop vas wees. 36Die arms en blomknoppe moet alles uit een stuk goud gevorm wees.
37“Maak ook sewe olielampe vir die staander. Jy moet dit op so ’n manier daaraan vassit dat die lig van die lampe na die voorkant van die staander skyn. 38Ook die tangetjie waarmee jy die vlammetjies van die lampe doodknyp en die houers met die olie en die pit in, moet van suiwer goud gemaak word. 39Daar sal 34 kilogram suiwer goud nodig wees om die staander en al sy dele te maak. 40Jy moet sorg dat dit alles gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek vir jou op die berg gewys het.”

Currently Selected:

Eksodus 25: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy