YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 24

24
Die Here sluit ’n ooreenkoms met Israel
1Die Here het vir Moses gesê: “Jy en Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers uit Israel moet teen die berg uitklim en hier na die Here toe kom. Julle moet nie te naby aan My kom nie, maar op ’n afstand bly staan. Van daar af moet julle afbuig na die grond toe en My aanbid. 2Terwyl die ander net daar bly, moet Moses dan alleen nader kom na die Here toe. Die volk self moet glad nie op die berg kom nie.”
3Moses het toe na die volk toe gegaan en vir hulle alles gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy het ook vir hulle die reëls gegee wat die Here vir hom gegee het. Die hele volk het toe geantwoord asof hulle uit een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons verwag.” 4Moses het ook alles neergeskryf wat die Here vir hom gesê het.
Hy het vroeg die volgende oggend ’n plek aan die voet van die berg gaan bou waarop hulle vir die Here kon offer. Hy het ook vir elkeen van die twaalf families ’n regop klip rondom die altaar ingeplant. 5Hy het toe twaalf jong Israeliete laat kom. Hulle het offers wat verbrand word en offers wat voor die Here geëet word, vir die Here gebring. 6Hy het van die bloed van die diere wat geoffer is, in bakke opgevang. Van die bloed het hy oor die offerplek uitgegooi. 7Terwyl die volk na hom staan en luister, het Moses vir hulle die reëls voorgelees wat hy neergeskryf het. Daarin het die Here gesê wat Hy verwag van mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het. Hulle het toe weer ’n keer gesê: “Ons sal gehoorsaam wees. Ons sal alles doen wat die Here van ons verwag.”
8Moses het van die bloed in die bakke oor die volk gesprinkel terwyl hy sê: “In ooreenstemming met die reëls wat ek vir julle voorgelees het, sluit die Here nou met hierdie bloed formeel ’n ooreenkoms met julle.”
Die leiers van Israel eet saam met die Here
9Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers van Israel het toe teen die berg uitgeklim. 10Hulle het die God van Israel met hulle eie oë gesien. Hy het op iets gestaan wat soos ’n vloer lyk wat met saffiersteen uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug. 11Hierdie beroemde leiers het God gesien. Hy het nie iets aan hulle gedoen toe hulle Hom gesien het nie. God en hulle het selfs daar saam geëet en gedrink.
Moses bly 40 dae op die berg
12Die Here het vir Moses gesê: “Klim verder teen die berg uit na My toe. Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek al die reëls en regulasies neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee.”
13Moses en sy helper Josua het toe gereedgemaak. Moses het verder teen die berg uitgeklim. 14Voor hy van hulle af weg is, het Moses vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons tot ons na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As daar iets dringends is, moet julle na hulle toe kom.”
15Terwyl Moses verder teen die berg uitklim, het die donker wolk weer afgesak en oor die berg gaan hang. 16-17Die Here was in al sy grootheid op die Sinaiberg. Vir die Israeliete onder die berg het dit gelyk na ’n vuur wat op die top van die berg brand terwyl die Here daar was. Die donker wolk het ses dae lank oor die berg bly hang. Op die sewende dag het die Here uit die wolk gepraat. Hy het Moses nader geroep. 18Moses het verder teen die berg uitgeklim en in die wolk verdwyn. Hy het vir altesaam 40 dae daar op die berg gebly.

Currently Selected:

Eksodus 24: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy