YouVersion Logo
Search Icon

Prediker 4

4
Onderdrukkers en verdruktes
1Ek het weer rondom my gekyk en al die slegte dinge raakgesien wat op aarde gebeur. Mense wat deur ander mishandel en verdruk word, het gehuil, maar niemand het hulle getroos nie. Die onderdrukkers het die mag gehad, maar hulle lewe was ook sonder geluk of blydskap. 2Ek beny daardie mense wat klaar dood is, want hulle is beter daaraan toe as dié wat nog leef. 3Van almal is die mense wat nog nie gebore is nie, die gelukkigste, want hulle het nog nie al die slegte dinge op aarde gesien nie.
4Ek het ook agtergekom waarom mense soms so hard werk. Dit is uit jaloesie omdat mense mekaar niks gun nie. Sulke arbeid is absoluut sinloos. Dis niks anders as ’n gejaag agter wind aan nie. 5Hulle sê dit is dwaas om met jou hande gevou te sit en niks te werk nie, want jy sal van die honger doodgaan. 6Maar ek sê: Wees eerder met minder tevrede as om heeltyd agter wind aan te hardloop.
Alleenwees is sleg
7Ek het ook iets anders in die lewe gesien wat geen sin maak nie. 8En dit is ’n man wat ongetroud is en geen seun of broer het nie. Elke dag werk hy hard. Alles wat hy sien, koop hy vir homself. Vir wie sloof hy hom nou af? Wie gaan alles geniet wat hy bymekaarmaak? Die lewe is sinloos, absoluut sinloos.
9Twee is beter as een, want twee mense kan meer regkry as net een. 10As die een val, kan die ander een hom ophelp. Dit is sleg as die een val en daar is niemand om hom te help nie. 11’n Mens kan homself nie warm maak nie, maar as twee saamlê, hou hulle mekaar warm. 12Een word maklik oorwin, maar twee kan ’n aanval keer. Om nie eens van drie te praat nie. ’n Driedubbele tou breek tog nie maklik nie.
13Dit is goed as ’n jong, intelligente man oor die land regeer. Al kom hy uit ’n arm familie en al was hy in die tronk, 14is hy nogtans beter as ’n dom, ou koning na wie niemand luister nie. 15Ek het gesien hoe al die mense ’n jong koning ondersteun. 16Baie mense het van hom gehou, maar volgende geslagte het nie eens meer aan hom gedink nie. Dit wys net hoe sinloos alles is. Alles kom tot niks.
Dink wat jy doen as jy die Here dien
17Maak seker wat jou motiewe is as jy na die huis van God toe gaan om die Here te dien. Gaan eerder soontoe om te luister en te leer as om soos ’n dwaas offers te bring, maar net mooi niks daarvan te verstaan nie. ’n Dwaas doen en sê net altyd die verkeerde dinge.

Currently Selected:

Prediker 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy