YouVersion Logo
Search Icon

Amos 6

6
Hoogmoed kom voor die val
1Daar wag teëspoed vir dié wat so houtgerus in Jerusalem bly. Dié wat so sonder bekommernis in Samaria woon, gaan ’n groot verrassing kry. Julle is beroemd. Die belangrikes onder Israel hou van julle. 2Gaan ’n bietjie na Kalne toe en kyk wat het daar gebeur. Gaan van daar af na die groot stad Hamat toe. Gaan af na Gat van die Filistyne. Is julle enigsins beter as daardie stede dat daar nie dieselfde met julle sal gebeur nie? Het julle ’n sterker en groter land as hulle? Sal dit maak dat niks met julle gebeur en julle niks oorkom nie? 3Julle probeer by die dag van teëspoed verbykom. Intussen bring julle met alles wat julle doen, daardie dag van straf net al nader aan julle.
4Julle slaap op beddens wat met ivoor mooi gemaak is. Julle lê en eet op rusbanke. Julle is lekkerbekkig en eet net sagte lam- en kalfsvleis. 5Julle maak allerhande liedjies om op die harp te speel. Soos Dawid maak julle vir julleself musiekinstrumente. 6Julle drink wyn uit die bekers wat vir die offers gebruik word. Julle smeer julleself met lekkerruikolie. Maar julle bekommer julle nie ’n oomblik oor die einde van Josef se nasate nie. 7Daarom sal julle die eerstes wees wat die vyand gaan vang om julle weg te vat na ’n ander land toe. Julle lawaaierige partytjies gaan dan verby wees.
Samaria word uitgewis
8Die Here het vir Homself ’n belofte gemaak. Die Here, die God wat sterk is, het vir Homself gesê: “Dit is vir My baie lelik dat Jakob se nageslag so selfvoldaan is. Ek vererg My oor hulle mooi huise. Ek gaan hierdie stad met alles daarbinne vir hulle vyand gee. 9Selfs al bly daar net tien mans oor van een familie wanneer die vyand hulle aanval, sal hulle ook doodgemaak word. 10Wanneer iemand van hulle familie die lyk kom haal om dit te gaan verbrand en hy vra vir iemand wat agter in die huis wegkruip of daar nog enigiemand anders in die huis oor is, sal dié persoon sê: ‘Nee, ek is die laaste.’ Hy sal vir die man wat die lyk kom haal het, waarsku. Hy sal sê: ‘Saggies! Die Here moenie hoor hier is nog iemand oor nie.’ 11Die Here sal opdrag gee dat elke huis, van die grootste tot die kleinste, platgeslaan word. Daar sal net murasies oorbly.”
Alles is verkeerd om
12Kan perde oor rowwe rotse galop? Kan ’n mens die see met osse omploeg? Natuurlik nie! Maar julle het reggekry wat ander mense nie kan doen nie. Julle het van dit wat goed en reg is iets giftigs gaan maak. Wat regverdig was, het julle iets gemaak wat verkeerd is. 13Julle is bly oor ’n plekkie soos Lo-Dabar, wat eintlik niks beteken nie. Julle spog dat julle met julle horings en julle eie krag Karnajim (wat “horings” beteken) ingeneem het. 14“Maar kyk wat gaan gebeur wanneer Ek ’n ander volk bring om oor julle te heers, Israel,” sê die Here, die God wat so sterk is, “hulle gaan julle onderdruk van Lebo-Hamat in die noorde af tot by Arabaspruit in die suide.”

Currently Selected:

Amos 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy