YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 21

21
Op pad Jerusalem toe
1Dit was bitter moeilik om van Efese se ouderlinge afskeid te neem. Nadat ons dit gedoen het, het ons tot by die eiland Kos gevaar. Daar het ons die aand oorgeslaap. Die volgende dag het ons tot in Rodos en van daar af na Patara gevaar.2Daar aangekom, het ons ’n boot gehaal wat ons tot in Fenisië geneem het. 3Van daar af is ons na Siprus toe, waar ons oor Sirië tot in Tirus gevaar het. Die skip het daar anker gegooi. Terwyl ons gewag het dat die skip se vrag afgelaai word, het ons besluit om by die gelowiges in die stad te gaan oorbly.4Ons het toe sewe dae by hulle deurgebring. Terwyl ons daar in Tirus was, het die Heilige Gees ’n paar gelowiges gelei om vir Paulus te sê om nie Jerusalem toe te gaan nie.
5Later, toe ons skip reg was om te vertrek, het die hele gemeente ons kom groet. Mans, vroue en kinders, almal was daar. Hulle het saam met ons tot by die hawe gestap. Dit was net buitekant die stad. Daar op die strand het ons almal eers neergekniel en saamgebid.6Toe het ons mekaar gegroet en op die skip geklim.
Swaarkry wag op Paulus
7Ons het van Tirus af na Ptolemaïs gevaar. Daar het ons die gemeente besoek. Hulle het gereël dat ons sommer ook daar by hulle oorslaap. 8Die volgende dag het ons na Sesarea vertrek, waar ons ’n ruk lank by Filippus gebly het. Hy is een van die sewe mans wat vroeër daar in die Jerusalemgemeente gehelp het om die armes te versorg.9Hy het nou in Sesarea gebly, waar hy die goeie nuus oor Jesus verkondig het. Filippus het vier dogters gehad wat nog nie getroud was nie. God het aan hulle die gawe gegee om as profete op te tree en sy wil aan ander mense bekend te maak.
10Terwyl ons by Filippus gebly het, het ’n profeet uit Judea met die naam Agabus ook daar aangekom. 11Daar voor almal kom vat hy Paulus se belt en maak dit om sy hande en voete vas. Toe sê hy: “Luister wat die Heilige Gees vir julle sê: ‘Die man aan wie hierdie belt behoort, gaan op presies dieselfde manier in Jerusalem deur die Jode vasgebind word. Dan gaan hulle hom aan die Romeine uitlewer.’”
12Toe ons dit hoor, was ons baie omgekrap. Ons het Paulus oor en oor gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar hy wou nie na ons luister nie. “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien?” het hy ons gevra. 13“Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!”
14Toe ons besef dat ons Paulus nie kon oorreed om weg te bly uit Jerusalem nie, het ons besluit om nie verder met hom daaroor te praat nie. “Ons bid net dat God se wil in jou lewe sal geskied. Mag al sy planne met jou lewe waar word,” het ons vir hom gesê.
Paulus gaan kuier vir Jakobus
15’n Paar dae later het ons Jerusalem toe vertrek. 16’n Klompie van die gelowiges in Sesarea het saam met ons soontoe gereis. Langs die pad het ons by ’n gelowige met die naam Mnason oorgebly. Hy was al oud. Hy het ons goed ontvang omdat hy goeie vriende was met die gelowiges in Sesarea wat saam met ons gereis het.
17In Jerusalem was die gelowiges van die stad bly om ons te sien.18Die volgende dag het ons en Paulus vir Jakobus gaan kuier. Toe ons by sy huis aankom, was die ander leiers van die gemeente ook daar.
19Paulus het hulle almal vriendelik gegroet. Hy het dadelik begin om hulle te vertel waar hy oral was en wat hy alles gedoen het. Hy het verduidelik hoe God deur hom gewerk het onder mense wat nie aan die Joodse volk behoort nie. 20Toe Jakobus en die ander mense dit hoor, het hulle die Here geprys. Toe Paulus klaar was, sê hulle: “Ons het ook goeie nuus. Hier in Jerusalem het duisende Jode ook in Jesus begin glo. Maar hulle onderhou steeds die wet van Moses.”
Paulus stem in om ’n Joodse gebruik na te kom
21“Paulus, nou het ons ook ’n bietjie slegte nuus. Dit gaan oor jou. Ons moet jou waarsku. Daar word gesê dat jy oral vir die Jode vertel dat hulle nie meer na die wet van Moses hoef te luister nie. Hulle sê dat jy sê Joodse kinders hoef nie meer besny te word nie. Hulle hoef ook nie meer te leef soos ons godsdienstige wet voorskryf nie.
22“Nou sit ons met ’n groot probleem. Almal in die stad sal binnekort weet jy is hier. En dan gaan hulle die lewe vir ons bitter moeilik maak. Ons eie gemeentelede gaan ons ook daarvan beskuldig dat ons vriendelik is met iemand wat ’n dwaalleer verkondig. Maar ons het ’n oplossing vir die probleem. 23In ons gemeente is daar vier mans wat ’n ruk terug ’n belofte aan die Here afgelê het. Nou het die tyd aangebreek dat hulle hulle hare moet afskeer. Dis die bewys dat hulle hulle belofte teenoor God nagekom het. 24Soos jy weet, moet hulle nou na die tempel toe gaan om hulle daar aan die Here te gaan toewy. Hulle moet ook ’n offer aan Hom bring, wat ’n klompie geld kos. Ons wil hê jy moet saam met hulle na die tempel toe gaan. Betaal die geld vir hulle offers.
“Gaan eers na ’n priester toe in die tempel. Hy sal jou elke paar dae met ’n bietjie water besprinkel. Dit vat ’n week. Na hierdie tyd kan jy dan die offers namens daardie vier mans betaal. Dan sal almal sien dat jy nog steeds luister na die wet van Moses.
25“Toe jy die vorige keer in Jerusalem was, het ons vir jou gesê dat Joodse gebruike slegs vir die Jode geld. Ons staan nog steeds daarby. Gelowiges wat nie Jode is nie, hoef glad nie hierdie voorskrif te gehoorsaam nie. Al wat hulle moet doen, is om te sorg dat hulle nie kos eet wat aan die afgode opgedra is nie. Hulle moet ook nie bloed drink of vleis eet van diere wat verwurg is nie. En laastens moet hulle nie seksuele verhoudings buite die huwelik aangaan nie.”
Paulus word in die tempel gevang
26Die volgende dag het Paulus die vier mans saam met hom na die tempel toe gevat. Daar het hy hom saam met hulle aan die Here toegewy. Volgens Joodse voorskrif sou daardie tyd van reiniging sewe dae lank aanhou.
27Toe die sewe dae amper verby was, het ’n groepie Jode uit Asië op ’n dag vir Paulus in die tempel raakgesien. Hulle was geskok en het dadelik begin skree: 28“Help! Kom help ons om hierdie man te vang! Dit is hy wat oral sulke verskriklike dinge teen die wet en teen die tempel kwytraak. Hy het nie ’n goeie woord vir ons volk nie. Boonop het ’n klompie Grieke saam met hom hier in die binnehof van die tempel ingekom. Hy maak die tempel onrein. 29Almal weet mos dat heidene nie hier mag inkom nie.” (Terloops, hierdie Jode het vroeër vir Trofimus, een van Paulus se metgeselle uit Efese, saam met hom sien rondstap. Hulle het gedink dat Paulus hom in die tempel ingevat het. Maar Paulus het nie so iets gedoen nie.)
30Hierdie woorde het die skare in rep en roer gehad. Soos een man het hulle op Paulus afgestorm en hom gevang. Die nuus dat Paulus in die tempel gevang is, het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. ’n Groot aantal mense het na die tempel toe gehardloop. Hulle het Paulus hardhandig tot buite die tempel gesleep. Die priesters het die deure van die tempel haastig agter die woedende skare toegesluit omdat hulle bang was vir ’n bakleiery op die tempelterrein.
Die Romeine kom Paulus te hulp
31Terwyl die mense Paulus aangerand en hom probeer doodmaak het, is ’n boodskap na die aanvoerder van die Romeinse garnisoen gestuur. Hy het gehoor wat buite die tempel aangaan. 32Die bevelvoerder het toe dadelik sy offisiere en manskappe bymekaargemaak en na die tempel gehardloop om die skare onder beheer te kry.
33Toe die skare die Romeinse soldate sien aankom, het hulle opgehou om Paulus te slaan en te skop. Die bevelvoerder het die soldate beveel om hom met twee kettings vas te maak. Toe het hy probeer vasstel wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het. 34Die skare het egter so geraas en deurmekaar gepraat dat die aanvoerder nie kon verstaan wat aan die gang was nie.35Hy het toe vir sy soldate gesê om Paulus na die Romeinse kaserne toe te bring. Die skare was egter so gewelddadig dat die soldate Paulus moes dra. Hulle het agter die soldate aangeloop en geskree:36“Weg met hom!”
Paulus verdedig homself
37Toe die Romeine by hulle hoofkwartier aankom, vra Paulus vir hulle aanvoerder: “Mag ek asseblief iets sê?”
“Hoe praat jy dan Grieks?” vra die bevelvoerder hom. 38“Ek dog jy is daardie Egiptenaar wat ’n ruk terug hier amok gemaak het en daarna met 4 000 volgelinge die woestyn in is.”
39“Nee, ek is ’n Jood,” antwoord Paulus. “Ek kom van daardie beroemde stad Tarsus in Silisië af. Mag ek asseblief die skare toespreek?”
40Die aanvoerder het geknik. Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die skare beduie om stil te bly. Almal het doodstil geword toe hy met hulle in Hebreeus begin praat.

Currently Selected:

Handelinge 21: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy