YouVersion Logo
Search Icon

2 Korintiërs 8

8
’n Geldinsameling vir
die arm Christene in Judea
1My broers en susters, ek wil julle vertel hoe ongelooflik goed God is vir al die gemeentes daar in die provinsie Masedonië. Weet julle, die een groot krisis na die ander het hulle getref. 2Maar al hierdie ernstige terugslae en swaarkry het hulle blydskap nie ’n enkele oomblik gedemp nie. Hulle het heeltyd opgeruimd gebly. Hulle is ook verskriklik arm. Dit het egter nie gekeer dat hulle sommer ’n groot bedrag geld gegee het vir die kollekte wat ek op die oomblik vir die arm Christene in Judea insamel nie. 3Ek het met my eie oë gesien dat hulle soveel gegee het as wat hulle kon. Nee, hulle het baie meer gegee as wat hulle kon bekostig. Daardie Christene van Masedonië het my omtrent gesmeek om deel te kon hê aan hierdie hulpprojek. 4Hulle was so bekommerd oor die gelowiges in Judea dat hulle met alle mag en mening by hierdie geldinsameling betrokke wou raak.
5Ek het glad nie vir die Christene in Masedonië gevra om geld vir die kollekte te gee nie. Hulle het dit uit hulle eie gedoen. Omdat hulle hulle lewe volledig aan die Here gegee het, was dit baie maklik vir hulle om hulle geld tot my beskikking te stel. So het hulle presies volgens God se wil opgetree.
6Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi.
Geloof vat grond in gelowiges se beursies
7Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het.
Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom.
8Ek probeer nie aan julle voorskryf wat julle moet doen nie. Glad nie. Ek vertel julle slegs hoe toegewyd ander gemeentes aan die Here is en hoeveel hulle omgee vir ander gelowiges wat swaarkry. Dalk beweeg dit julle om net soos hulle te maak. Julle reaksie sal wys of julle liefde vir die Here en vir ander mense eg is, en of dit net lippetaal is.
9Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is. Al die eer en glorie in die hemel behoort aan Hom. Tog het Hy hierdie hemelse rykdom ter wille van julle opgeoffer toe Hy in julle plek aan die kruis dood is. Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak. Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is deur julle besittings met ander gelowiges te deel.
10Ek wil julle gou ’n stukkie goeie raad gee. Onthou julle hoe julle ’n jaar gelede besluit het om by die geldinsameling vir Jerusalem betrokke te raak? Ek onthou nog baie goed hoe ywerig julle toe begin geld insamel het. 11Handel hierdie geldinsameling asseblief nou af. Sit weer geld daarvoor opsy. Doen dit met dieselfde geesdrif waarmee julle verlede jaar begin het. 12Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly. 13Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie.
14Daar moet ewewig in die kerk wees wanneer gelowiges mekaar geldelik help. Dit moet só gedoen word: julle wat nou genoeg geld het, moet daardie Christene help wat te min geld het. Later, wanneer julle weer te min geld het, moet hulle julle kom uithelp. So kom daar ewewig. 15Dit is presies wat die Bybel sê:
“Hy wat baie besit, het nie te veel nie. Hy wat ’n bietjie besit, het nie te min nie.”
’n Aanbeveling vir Titus en twee helpers
16Ek is baie dankbaar teenoor God omdat Hy Titus so ywerig gemaak het om julle te kom help. Hy is net so ywerig soos ek self. 17Ek het Titus vroeër aangemoedig om weer na julle toe te gaan, maar hy het sommer self besluit om na julle toe te gaan omdat hy so baie vir julle omgee.
18Ek stuur nog iemand saam met Titus na julle toe. Hy is baie bekend in al die gemeentes omdat hy so hard werk in diens van die evangelie. 19Die ander gemeentes wat geld vir hierdie fonds insamel, het hom aangewys om saam met ons Jerusalem toe te gaan. Daar gaan ons die kollekte aan die gelowiges oorhandig. Deur hierdie liefdeswerk wil ons die Here se Naam grootmaak. Dis ons enigste doel. Daarom doen ons ons bes om die geld reg te administreer sodat niemand ons goeie naam in twyfel trek nie.
20Tot dusver het ons al ’n groot bedrag geld vir Jerusalem ingesamel. Ons kan nie bekostig dat iemand ons nou daarvan verdink dat ons hierdie geld misbruik wat die gelowiges aan ons toevertrou het nie. 21Dit is vir ons belangrik dat ons optrede altyd reg moet wees, in die oë van God én in die oë van ander mense. 22Daarom stuur ons nog ’n ander broer saam met Titus na julle toe. Hy het al baie kere bewys dat hy betroubaar is. Niemand twyfel oor sy goeie naam nie. Hy wil julle ook graag kom help. Vandat hy gehoor het hoe toegewyd julle is, is hy eers ywerig om na julle toe te kom.
23Wat Titus betref: wel, julle weet mos dat hy al lankal saam met my werk om die goeie nuus uit te dra; ook tot daar by julle. Die twee broers wat saam met hom na julle toe kom, is verteenwoordigers van die verskillende gemeentes. Hulle almal glo in Christus. Hulle weerkaats ook sy heerlikheid. 24Wys asseblief vir hulle dat julle hulle ook liefhet. Ontvang hulle soos julle eie broers. Ek het vir al die gemeentes vertel hoeveel julle vir ander mense omgee. Laat hierdie afgevaardigdes dit asseblief nou met hulle eie oë sien.

Currently Selected:

2 Korintiërs 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy