YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 23

23
Saul probeer Dawid vaskeer
1Dawid het gehoor dat die Filistyne besig was om die dorp Keïla aan te val en die mense se koring te steel. 2Dawid het toe deur die priester vir die Here gevra: “Moet ek hierdie klomp Filistyne gaan aanval?”
Die Here het geantwoord: “Ja, gaan val hulle aan dat Keïla weer vry kan wees.”
3Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Ag nee, man! Ons het al genoeg moeilikheid hier in Juda, wat nog as ons Keïla toe gaan en die soldate van die Filistyne gaan aanval!”
4Dawid het toe weer deur die priester die Here se raad gaan vra. Die Here het hom geantwoord: “Maak klaar en gaan af na Keïla toe, want Ek gaan die Filistyne aan jou oorgee.”
5Dawid en sy manne is toe na Keïla toe. Hulle het teen die Filistyne geveg, hulle vee afgeneem en baie van hulle doodgemaak. So het Dawid die mense van Keïla gered.
6-9Saul het gehoor Dawid het na Keïla toe gegaan. Hy het gedink: “God het hom om die bos gelei en hy is nou in my mag. Hy is vasgekeer in ’n dorp met deure en sluitbalke.”
Saul het toe al die burgers opgeroep vir oorlog. Hulle moes na Keïla toe gaan en Dawid en sy manne in die dorp vaskeer. Toe Dawid hoor wat Saul se plan met hom is, het hy vir priester Abjatar gesê: “Bring die priestersak waarmee jy uitvind wat die Here sê.” (Abjatar, Agimelek se seun, het die priestersak saamgevat toe hy na Dawid toe gevlug het in Keïla.)
10Dawid sê toe: “Here, God van Israel, hierdie dienaar van u het sonder twyfel gehoor dat Saul van plan is om na Keïla toe te kom en die dorp uit te wis omdat ek hier is. 11Sal die burgers van Keïla my aan Saul oorgee? Sal Saul hierheen kom, soos ek gehoor het? Here, God van Israel, sê my asseblief wat gaan gebeur!”
Die Here het geantwoord: “Ja, Saul gaan hierheen kom.”
12Dawid vra toe weer: “En sal die leiers van Keïla my en my manne aan Saul oorgee?”
“Ja, hulle gaan julle oorgee,” antwoord die Here.
13Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie.
14Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie. 15Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak.
Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was, 16het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou. 17Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.”
18Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly.
19Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn. 20As U Majesteit dan nou graag daarheen wil kom, kan u gerus kom. Ons sal sorg dat U majesteit hom in die hande kry.”
21“Die Here sal nog goed wees vir julle omdat julle vir my omgee,” het Saul gesê. 22“Gaan nou terug, dan maak julle weer doodseker: julle moet weet waar sy lêplek is, waar hy rondloop en wie hom gesien het. Hulle sê vir my hy is baie skelm. 23Maak seker dat julle al die plekke waar hy wegkruip, goed ken. Kom dan terug na my toe met goeie inligting. As hy in die omgewing is, sal ek saam met julle gaan en hom uitsnuffel tussen al die mense van Juda.”
24Die mense het teruggegaan Sif toe. Saul sou later daarheen gaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die Arabavlakte suid van die Jeshimonwoestyn. 25Saul en sy manskappe het die soektog begin. Toe Dawid dit hoor, het hy afgegaan na die rotskop in die Maonwoestyn en daar gebly. Dit het by Saul uitgekom, en hy is agter Dawid aan, die Maonwoestyn in.
26Saul het al langs die een kant van die kop getrek, terwyl Dawid aan die ander kant van die kop so al wat hy kan probeer om van Saul af weg te kom. Toe Saul en sy manne op die punt is om Dawid en sy manne te omsingel en hulle vas te trek, 27kom daar ’n boodskapper by Saul aan en sê vir hom: “Maak baie gou, die Filistyne is besig met strooptogte in die land!”
28Saul het toe opgehou om Dawid te probeer vang en teruggegaan om teen die Filistyne te veg. Dit is waarom hulle die plek Skeidingrots noem.

Currently Selected:

1 Samuel 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy