YouVersion Logo
Search Icon

1 Konings 15

15
Abia word koning van Juda
1Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. 2Hy het net drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma, Maäka, was ’n dogter van Abisalom. 3Hy het dieselfde verkeerde dinge as sy pa, Rehabeam, gedoen. Hy het ook nie die Here so liefgehad soos sy oupagrootjie Dawid nie. 4Ter wille van Dawid het die Here vir Abia ’n seun gegee wat na hom kon regeer en Jerusalem kon beskerm. 5Behalwe vir die verkeerde daad teen Urija die Hetiet, het Dawid altyd die regte dinge in die oë van die Here gedoen.
6Abia en Jerobeam het heeltyd oorlog teen mekaar gemaak.
7Alles wat Abia gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings geskryf.
8Abia is dood en in Jerusalem begrawe. Sy seun Asa het hom opgevolg.
Asa tree op teen die afgode
9Asa het in die twintigste jaar van Jerobeam van Israel se regering koning van Juda geword. 10Hy het 41 jaar in Jerusalem regeer. Sy ouma Maäka was ’n dogter van Abisalom.
11Asa was anders as Abia. Hy het goeie dinge gedoen, net soos sy voorvader Dawid. 12Hy het alle manlike prostitute uit die land verban en die afgode van sy voorgangers verwoes. 13Hy het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder ontslaan omdat sy ’n groot en afskuwelike beeld van Asjera, die godin van vrugbaarheid, gemaak het. Asa het die ding afgebreek en in die Kidrondal verbrand. 14Asa was lief vir die Here, maar hy kon op die ou end nie daarin slaag om al die offerplekke op die hoogtes waar die volk so graag geoffer het te verwoes nie. 15Hy het al die goed wat sy pa aan die Here se diens gewy het, in die tempel gestoor. Asa het ook al die goue en silwervoorwerpe wat hy self aan die Here gewy het, in die tempel gaan bewaar.
Israel val Juda aan
16Asa en Baesa, koning van Israel, het gedurig teen mekaar oorlog gemaak.
17Op ’n dag het Baesa Juda binnegeval en Rama versterk sodat niks of niemand Juda kon binnegaan of verlaat nie.
18Asa het bang geword. Hy het toe al die goud en silwer wat in die tempel opgeberg is, asook alles wat hy in die paleis kon kry, bymekaargemaak en vir sy amptenare gegee. Hulle moes onmiddellik na Ben-Hadad, koning van Sirië, die seun van Tabrimmon en die kleinseun van Gesjon, wat in Damaskus woon, vertrek.
19Hulle moes namens Asa vir Ben-Hadad sê: “Daar is mos ’n ooreenkoms tussen ons twee, net soos daar ook een tussen ons pa’s was. Hier is vir u ’n geskenk van goud en silwer, maar ek vra dat u my moet help. Verbreek tog u ooreenkoms met Baesa sodat hy uit Juda sal padgee.”
20Ben-Hadad het ingestem en sy beste generaals en hulle leërs na Israel toe gestuur. Hulle het die dorpe van Israel aangeval. Hy het Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäka verower, asook die hele Gennesaret en die land van Naftali. 21Toe Baesa hiervan hoor, het hy opgehou met die bouwerk in Rama en dadelik na Tirsa teruggegaan.
22Asa het toe die hele Juda opgeroep. Niemand is verskoon nie. Hulle het na Rama opgeruk en al Baesa se stene en hout gevat en ander stede daarmee begin bou. Asa het Geba in Benjamin en Mispa met die materiaal uit Rama gebou.
23Alles wat Asa verder gedoen het, sy dapper dade en al sy bouwerke, is in die boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Op sy oudag het Asa kruppel geloop omdat hy ’n voetsiekte gehad het.
24Asa het gesterf en is in die grafte van die konings in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom opgevolg.
Nadab regeer oor Israel
25In die tweede jaar van Asa van Juda se regering het Nadab koning van Israel geword. Nadab het net twee jaar regeer. 26Nadab het baie verkeerde dinge gedoen. Hy het sy pa se voorbeeld gevolg.
27Baesa, ’n seun van Agija uit die stam van Issaskar, het ’n komplot teen Nadab gesmee om hom uit die weg te ruim. Terwyl Nadab op ’n keer vir Gibbeton, ’n stad in die Filistynse gebied, beleër het, het Baesa hom oorval en vermoor. 28Dit het gedurende die derde jaar van koning Asa van Juda se regering gebeur. Baesa het in die plek van Nadab koning van Israel geword. 29Baesa het dadelik Jerobeam se familie stelselmatig begin uitmoor. 30Dit het natuurlik gebeur soos die Here ’n paar jaar tevore al deur sy profeet Agija van Silo voorspel het. Die hele Jerobeamfamilie is uitgewis. Nie een het oorgebly nie.
31Alles wat Nadab gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings geskryf. 32Tussen Asa van Juda en Baesa van Israel was daar gedurig oorlog.
Die regering van Baesa
33In die derde jaar van koning Asa van Juda se regering het Baesa, ’n seun van Agija uit Issaskar, koning van Israel geword. Hy het 24 jaar lank in Tirsa regeer. 34Soos koning Jerobeam voor hom het Baesa net verkeerd gedoen en het hy Israel die verderf in gelei.

Currently Selected:

1 Konings 15: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy