YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 23

23
Die take van die Leviete
1Toe Dawid oud was, het hy sy seun Salomo as koning van Israel aangewys. 2Toe roep hy al die leiers van Israel, saam met die priesters en die Leviete, bymekaar.
3Die Leviete van 30 en ouer is getel: ’n totaal van 38 000. 4Van hulle moes 24 000 in die huis van die Here werk en 6 000 die orde en regspraak behartig; 54 000 was hekwagte en nog 4 000 moes sorg vir die lof van die Here op die musiekinstrumente wat Dawid daarvoor gemaak het.
6Dawid het hulle in groepe ingedeel volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.
Die Gersongroep en die Kehatgroep
7Uit die nageslag van Gerson was daar Ladan en Simi. 8Die seuns van Ladan was drie: Jegiël, die leier, Setam en Joël. 9Simi se seuns was ook drie: Selomit, Gasiël en Haran. 10Die ander seuns van Simi se name was Jagat, Sisa, Jeüs en Beria. 11Jagat was eerste en Sisa tweede. Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie en vorm saam een diensgroep van die familie.
12Kehat se vier seuns was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.
13Amram se seuns was Aäron en Moses. Aäron en sy nageslag is vir altyd afgesonder om die heilige werk in die Allerheiligste te doen, om vir die Here wierookoffers te bring, om Hom te dien en om in sy Naam die seën oor die volk uit te spreek. 14Moses, die man van God, se nageslag is as deel van die stam Levi gereken. 15Moses se seuns was Gersom en Eliëser. 16Subael was die leier van die nageslag van Gersom. 17Regabja, Eliëser se enigste seun, was die leier van die nageslag van Eliëser. Alhoewel Eliëser self nie ander seuns gehad het nie, het Regabja baie gehad.
18Selomit was die leier van Jishar se nageslag.
19Jerija was die leier van Hebron se nageslag, Amarja was die tweede, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde.
20Miga was die leier van Ussiël se nageslag en Jissija was die tweede.
Die Merarigroep
21Merari se seuns was Magli en Musi.
Magli se seuns was Eleasar en Kis. 22Toe Eleasar dood is, het hy nie seuns gehad nie, net dogters. Hulle neefs, die seuns van Kis, het met hulle getrou.
23Musi se drie seuns was Magli, Eder en Jeremot.
24Hierdie is dan die Leviete volgens hulle families met die familiehoofde volgens hulle diensgroepe, soos hulle een vir een by name aangeteken is. Elke Leviet van twintig jaar en ouer het hulle take by die huis van die Here verrig, 25want Dawid het gesê: “Die Here, die God van Israel, het vir sy volk rus gegee en Hy wil vir altyd in Jerusalem bly. 26Nou hoef die Leviete nie meer die tent van die Here met al sy toebehore van plek tot plek te dra nie.”
27Dit was Dawid se laaste instruksies dat al die Leviete van twintig jaar en ouer vir diens aangeteken moes word. 28Hulle moes die nageslag van Aäron help met die werk in die huis van die Here. Hulle was verantwoordelik vir die voorportale, die kamers, die skoonmaak van al die gewyde dinge en vir die werksaamhede van die tempeldiens. 29Hulle moes sorg vir die offerbrood, die meel vir die graanoffer, die ongesuurde brood, die bakplaat, die deegmengsel en vir elke inhouds- en lengtemaat. 30Hulle moes ook elke oggend en aand reg staan om vir die Here dank en lof te bring 31en moes help met die bring van al die offers vir die Here op die sabbat, nuwemaansfeeste en ander feestye. Die regte aantal Leviete moes altyd in die tempel werk, presies volgens die voorskrifte wat aan hulle gegee is.
32Deur hulle werk in die tempel van die Here het hulle die spesiale dienste vir die Here in stand gehou.

Currently Selected:

1 Kronieke 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy