YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 21

21
Voorspel tot die bou van die tempel: Die sensus
1Satan het teen Israel gewerk en Dawid oortuig om al die mense wat in sy koninkryk bly, te laat tel. 2Dawid het toe vir Joab en sy offisiere beveel: “Gaan tel al die mense in Israel, van Berseba in die suide af tot by Dan in die verre noorde. Bring dan vir my die inligting, sodat ek kan weet hoeveel mense daar is.”
3Joab het Dawid geantwoord: “Mag die Here sy volk ’n honderd keer meer maak as wat hulle nou is! Maar waarom wil u nou hierdie telling laat doen? Almal is tog u onderdane. Waarom wil u Israel nou laat sonde doen?”
4Dawid het hom nie daaraan gesteur nie en Joab gedwing om die volkstelling te doen. Joab het die hele land deurgegaan en toe hy weer in Jerusalem aankom, 5het hy die getalle vir Dawid gegee: in die hele Israel was daar 1,1 miljoen weerbare manne en in Juda 470 000. 6Die opdrag van Dawid was egter vir Joab so afstootlik dat hy nie die Benjaminiete en die Leviete bygetel het nie.
Die oordeel oor Dawid se sonde
7God was baie ontevrede oor die volkstelling en het Israel daaroor gestraf. 8Dawid het vir God gesê: “Ek het ’n groot sonde gedoen deur die volkstelling te hou. Vergewe my, asseblief; ek besef dit was ’n dom ding om te doen.”
9Die Here het vir Gad, Dawid se siener, gesê: 10“Gaan sê vir Dawid: ‘Die Here sê: Kies een van die volgende drie moontlikhede as ’n straf oor jou sonde en Ek sal dit laat gebeur.’”
11Gad is toe na Dawid toe en het vir hom gesê: 12“Die Here sê u moet kies tussen: drie jaar hongersnood, drie maande van vernietiging deur u vyande of drie dae van ernstige siekte, terwyl die engel van die Here vernietiging oor die hele land van Israel bring.
“Wat kies u, sodat ek dit vir die Here kan gaan sê?”
13Dawid het geantwoord: “Dit is ’n ontsettend moeilike keuse. Laat die Here my liewers self straf, want sy genade is baie groot. Moet tog net nie dat mense my in die hande kry nie!”
14Die Here het toe ’n siekte-epidemie in Israel laat uitbreek wat die lewe van 70 000 mense geëis het. 15Daarna het God ’n engel gestuur om Jerusalem ook te vernietig. Toe Hy die verwoesting sien, was die Here jammer daaroor en Hy het vir die engel gesê: “Hou op! Dit is nou genoeg.”
Die engel het toe by die dorsvloer van Ornan, ’n Jebusiet, gestaan.
16Dawid het opgekyk en die engel tussen die aarde en hemel gesien met ’n ontblote swaard wat hy oor Jerusalem uithou. Dawid en die leiers van die volk was baie hartseer en hulle wou dit vir die Here wys. Met rouklere aan het hulle met die gesig op die grond geval. 17Dawid het toe vir God gesê: “Dit was ék wat beveel het dat die volk getel moes word. Dit was my fout en ek het die sonde gedoen. Wat het hierdie arme mense gedoen? Here my God, U kan my en my familie swaar straf, maar spaar tog u volk van die siekte-epidemie!”
Dawid bou ’n altaar
18Die engel van die Here het toe vir Gad beveel om vir Dawid te sê dat hy ’n altaar op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, moes gaan bou. 19Dawid het dit dadelik gedoen.
20Ornan en sy vier seuns was besig om koring te dors. Toe hy opkyk, het hy die engel gesien. Hy en sy seuns het dadelik gaan wegkruip. 21Toe Ornan daarna vir Dawid na hom toe sien aankom, het hy voor Dawid neergebuig.
22Dawid het toe vir Ornan gesê: “Verkoop asseblief die dorsvloer aan my teen sy volle prys. Ek wil ’n altaar hier bou sodat die siekte-epidemie kan ophou.”
23Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.”
24Dawid het egter gesê: “Ek wil beslis vir alles betaal. Ek kan nie jou goed vir die Here offer en ’n brandoffer bring met iets wat my niks gekos het nie!” 25Hy het die grond toe vir omtrent sewe kilogram goud van Ornan gekoop 26en ’n altaar vir die Here op die dorsvloer gebou. Hy het brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Toe Dawid tot die Here bid, het die Here met vuur uit die hemel geantwoord wat die offer op die altaar verbrand het. 27Toe het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard gebêre.
28Toe Dawid sien dat die Here sy gebede verhoor het, het hy offers op die dorsvloer gebring. 29Op daardie stadium het die tabernakel van die Here, dit is die tent en die altaar wat Moses in die woestyn vir die Here gemaak het, nog op die hoogte by Gibeon gestaan. 30Dawid kon egter nie toe daarheen gaan om uit te vind wat die Here se wil is nie, want hy was nog te bang nadat hy die groot swaard van die engel van die Here gesien het.

Currently Selected:

1 Kronieke 21: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy