PSALMS 65
AFR53
65
Loflied op die goedheid van God.
1VIR die musiekleier. #Ps. 48:1’n Psalm van Dawid. ’n Lied.
2Aan U kom ’n lofsang toe, o God, in Sion, en aan U moet die gelofte betaal word.
3 o Hoorder van die gebed, tot U #Ps. 86:9moet alle vlees kom!
4Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad, maar #Ps. 51:4U versoen ons oortredinge.
5Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat #Ps. 27:4hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis.
6Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid, o God van ons heil, vertroue van al die eindes van die aarde en van die verste see!
7Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag,
8wat #Ps. 89:10die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke;
9sodat die bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange van die môre en die aand jubel.
10U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; #Ps. 46:5die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land.
11U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel.
12U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.
13 # Jer. 9:10 Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.
14Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Afrikaans 1933/1953