YouVersion Logo
Search Icon

MATTHÉÜS 25

25
Die profetiese rede (vervolg). Gelykenis van die vyf verstandige en die vyf onverstandige maagde.
1DAN sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
3En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
4Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
5En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
6En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
7Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
8En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
9Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
10En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
11Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop!
12Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.
Die profetiese rede (vervolg). Gelykenis van die talente.
(Lk. 19:11-27.)
14 WANT dit is soos 'n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.
15En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.
16En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.
17Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.
18Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
19En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.
20En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien.
21En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
22En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien.
23Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
24En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie;
25omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.
26Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.
27Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.
28Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het;
29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
30En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
Die profetiese rede (slot). Die ewige lewe en die ewige straf.
31 EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;
32en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;
33en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.
34Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
35Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
36Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
37Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
38En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
39En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
40En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
41Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
42Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.
43Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.
44Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?
45Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.
46En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

Currently Selected:

MATTHÉÜS 25: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy