YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 3

3
Prediking van Johannes die Doper.
(Mt. 3:1-12 en ooreenk. pl.)
1EN in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne,
2tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn.
3En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig;
4soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit.
5Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.
6En alle vlees sal die heil van God sien.
7Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?
8Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.
9Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
10En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen?
11En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.
12En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen?
13En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie.
14En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.
15En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie,
16antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie — Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
17Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.
18Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.
19 Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het,
20het hy by alles nog dít gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het.
Jesus gedoop.
(Mt. 3:13-17 en ooreenk. pl.)
21EN toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan;
22en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos 'n duif op Hom neergedaal; en 'n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.
Die geslagsregister van Jesus.
(Mt. 1:1-17.)
23EN Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,
24die seun van Mattat, die seun van Levi, die seun van Melgi, die seun van Janna, die seun van Josef,
25die seun van Mattatías, die seun van Amos, die seun van Nahum, die seun van Esli, die seun van Nággai,
26die seun van Maät, die seun van Mattatías, die seun van Sémeï, die seun van Josef, die seun van Juda,
27die seun van Jóhanan, die seun van Resa, die seun van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die seun van Neríja,
28die seun van Melgi, die seun van Addi, die seun van Kosam, die seun van Elmódam, die seun van Er,
29die seun van Joses, die seun van Eliëser, die seun van Jorim, die seun van Mattat, die seun van Levi,
30die seun van Símeon, die seun van Juda, die seun van Josef, die seun van Jonan, die seun van Éljakim,
31die seun van Meléas, die seun van Mainan, die seun van Máttata, die seun van Natan, die seun van Dawid,
32die seun van Ísai, die seun van Obed, die seun van Boas, die seun van Salmon, die seun van Nagson,
33die seun van Ammínadab, die seun van Ram, die seun van Hesron, die seun van Peres, die seun van Juda,
34die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham, die seun van Tera, die seun van Nahor,
35die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van Heber, die seun van Sela,
36 die seun van Kainan, die seun van Arpágsad, die seun van Sem, die seun van Noag, die seun van Lameg,
37die seun van Metúsala, die seun van Henog, die seun van Jered, die seun van Mehaláleël, die seun van Kenan,
38die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

Currently Selected:

LUKAS 3: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy