YouVersion Logo
Search Icon

LEVÍTIKUS 4

4
Die sondoffer.
1VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:
2Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die Here en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen —
3as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, 'n jong bul sonder gebrek aan die Here as sondoffer bring;
4en hy moet die bul bring na die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die Here, en moet sy hand op die kop van die bul lê en die bul slag voor die aangesig van die Here.
5Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul neem en dit na die tent van samekoms bring,
6en die priester moet sy vinger in die bloed steek en van die bloed sewe maal sprinkel voor die aangesig van die Here, voor die voorhangsel van die heiligdom.
7Ook moet die priester van die bloed stryk aan die horings van die altaar van die reukwerk van speserye, wat in die tent van samekoms is, voor die aangesig van die Here; en hy moet al die orige bloed van die bul uitgiet aan die onderkant van die brandofferaltaar wat by die ingang van die tent van samekoms is;
8en al die vet van die sondofferbul moet hy van hom aflig, die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
9en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem —
10soos dit van die dankofferbul afgelig word — en die priester moet dit aan die brand steek op die brandofferaltaar.
11 Maar die vel van die bul en al sy vleis met die kop en die pote en die binnegoed en die mis —
12die hele bul moet hy buitekant die laer uitbring op 'n rein plek waar die as uitgegooi word, en hy moet hom op hout met vuur verbrand; op die plek waar die as uitgegooi word, moet hy verbrand word.
13En as die hele vergadering van Israel hulle misgaan sonder dat die vergadering hom daarvan bewus is; en hulle enigiets doen wat die Here verbied het, en skuldig word;
14en die sonde wat hulle so gedoen het, bekend word, moet die vergadering 'n jong bul as sondoffer laat aankom en hom voor die tent van samekoms bring,
15en die oudstes van die vergadering moet hulle hande op die kop van die bul lê voor die aangesig van die Here, en die bul moet voor die aangesig van die Here geslag word.
16 Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul in die tent van samekoms bring,
17en die priester moet sy vinger in die bloed steek en sewe maal voor die aangesig van die Here, voor die voorhangsel sprinkel.
18En hy moet van die bloed stryk aan die horings van die altaar wat in die tent van samekoms voor die aangesig van die Here is. Dan moet hy al die orige bloed uitgiet aan die onderkant van die brandofferaltaar wat by die ingang van die tent van samekoms is;
19en hy moet al die vet van hom aflig en op die altaar aan die brand steek
20en met die bul doen soos hy met die sondofferbul gedoen het. So moet hy met hom maak; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle vergewe word.
21Daarna moet hy die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy die eerste bul verbrand het; dit is 'n sondoffer van die vergadering.
22As 'n owerste sondig en in swakheid enigiets doen wat die Here sy God verbied het, en hy skuldig word;
23of as sy sonde wat hy so gedoen het, aan hom bekend word, moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ram;
24en hy moet sy hand op die kop van die bok lê en hom slag op die plek waar hulle die brandoffer voor die aangesig van die Here slag; dit is 'n sondoffer.
25 Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar die orige bloed moet hy aan die onderkant van die brandofferaltaar uitgiet.
26Hy moet ook al die vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die dankoffer. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens sy sonde, en dit sal hom vergewe word.
27En as iemand van die volk van die land in swakheid sondig, omdat hy enigiets doen wat die Here verbied het, en hy skuldig word;
28of as sy sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend word, dan moet hy as sy offer bring 'n bok sonder gebrek, 'n ooi, vir die sonde wat hy gedoen het;
29 en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag op die plek van die brandoffer.
30Dan moet die priester van haar bloed met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet;
31en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankoffer af weggeneem is, en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur vir die Here. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en dit sal hom vergewe word.
32Maar ingeval hy 'n skaaplam as sy sondoffer bring, moet dit 'n ooi wees sonder gebrek wat hy bring;
33en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag op die plek waar hulle die brandoffer slag.
34Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk, maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet;
35en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankofferlam weggeneem word, en die priester moet dit op die altaar oor die vuuroffers van die Here aan die brand steek. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.

Currently Selected:

LEVÍTIKUS 4: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy