YouVersion Logo
Search Icon

LEVÍTIKUS 26

26
Belofte en bedreiging.
1JULLE mag vir julle geen afgode maak nie; en 'n gesnede beeld of 'n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en 'n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die Here julle God.
2 My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die Here.
3 As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen,
4sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.
5En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon.
6Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie.
7En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard.
8 Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard.
9En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig.
10Julle sal ou koring van vorige jare eet en die oue laat plek maak vir die nuwe.
11 En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie.
12 En Ek sal in jul midde wandel en vir julle 'n God wees, en júlle sal vir My 'n volk wees.
13 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en Ek het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop.
14 Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie;
15en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge 'n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek —
16dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.
17En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.
18En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.
19En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.
20En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.
21En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.
22 En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees.
23En as julle hierdeur jul nie deur My laat tugtig nie, maar julle teen My versit,
24 sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes.
25En Ek sal 'n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.
26 As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.
27As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit,
28sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ék sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes.
29 En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet.
30En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal 'n afsku van julle hê.
31 En Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes en julle lieflike geur nie ruik nie.
32 Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.
33En Ek sal julle onder die volke verstrooi en 'n swaard agter julle uittrek; en julle land sal 'n wildernis en julle stede puinhope word.
34 Dan sal die land vir sy sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en vir sy sabbatte vergoeding gee.
35Al die dae van sy verwoesting sal dit rus — die rus wat dit nie gehad het in julle sabbatte toe julle daarin gewoon het nie.
36En wat aangaan diegene wat onder julle oorgebly het — Ek sal in hulle hart 'n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande, sodat die geruis van 'n verwaaide blaar hulle op die loop sal ja; en hulle sal vlug, soos 'n mens vir 'n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.
37En hulle sal struikel die een oor die ander soos vir die swaard, alhoewel niemand agtervolg nie; en julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie.
38Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer.
39En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer in die lande van julle vyande, ja, ook oor die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer.
40Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het,
41 sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid,
42sal Ek dink aan my verbond met Jakob; en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink, en aan die land sal Ek dink.
43 Maar die land moet eers van hulle verlate wees en moet vir sy sabbatte vergoeding kry, terwyl dit woes lê sonder hulle; en húlle sal vir hul ongeregtigheid boet, omdat, ja, omdat hulle my verordeninge verwerp en hulle siel van my insettinge 'n afsku gehad het.
44Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek 'n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God.
45Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle 'n God te wees. Ek is die Here.
46 Dit is die insettinge en die verordeninge en die wette wat die Here tussen Hom en die kinders van Israel by die berg Sinai deur die diens van Moses gegee het.

Currently Selected:

LEVÍTIKUS 26: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy