YouVersion Logo
Search Icon

KLAAGLIEDERE 3

3
Aansporing tot selfvernedering en gebed.
1 Alef. EK is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
2My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
3Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
4 Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
5Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.
6 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
7 Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
8 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
9Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
10 Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
11Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.
12Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.
13 He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
14Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
15Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wildeals laat drink.
16 Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
17En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
18Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die Here.
19 Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wildeals en die gif.
20As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
21Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
22 Get. dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;
23hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
24Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
25 Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
26Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here.
27 Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.
28 Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
29 Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop!
30 Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
31 Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
32Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;
33 want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
34 Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
35dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
36dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak — het die Here dit nie gesien nie?
37 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
38Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
39Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
40 Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer;
41 laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
42Óns het oortree en ons was wederstrewig — Ú het nie vergewe nie.
43 Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.
44U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
45U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
46 Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
47skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
48 My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
49 Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
50totdat die Here uit die hemel neersien en aanskou.
51My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
52 Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;
53hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
54 Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
55 Kof. Ek roep u Naam aan, Here, uit die onderste kuil.
56U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
57 U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
58 Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
59U sien, Here, my verdrukking; verskaf my tog reg.
60U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
61 Sjin. U hoor hulle smaadrede, Here, al hulle planne teen my,
62die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
63Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
64 Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, Here.
65 U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
66U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die Here uit.

Currently Selected:

KLAAGLIEDERE 3: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy