YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 13

13
Verdeling van die land oos van die Jordaan.
1EN toe Josua oud en ver op sy dae was, het die Here vir hom gesê: Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog 'n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem.
2 Dit is die land wat oorgebly het: Al die landstreke van die Filistyne en al die Gesuriete,
3van die Sihor aan die kant van Egipte af tot by die grens van Ekron na die noorde, wat as Kanaänities gereken word; die vyf vorste van die Filistyne: dié van Gasa en dié van Asdod, dié van Áskelon, dié van Gat en dié van Ekron, en die Awiete
4in die suide; die hele land van die Kanaäniete en Méara wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek, tot by die grens van die Amoriete;
5en die land van die Gibliete en die hele Líbanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af, onderaan die berg Hermon, tot by die ingang na Hamat.
6Al die bewoners van die gebergte, van die Líbanon af tot by Mísrefot-Maim, al die Sidoniërs — Ek self sal hulle voor die kinders van Israel uit verdrywe; laat dit net as erfdeel aan Israel val soos Ek jou beveel het.
7Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel onder die nege stamme en die halwe stam van Manasse.
8Saam met hom het die Rubeniete en die Gadiete hulle erfdeel ontvang wat Moses oorkant die Jordaan na die ooste toe aan hulle gegee het, soos Moses, die kneg van die Here, dit aan hulle gegee het:
9 van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, die stad in die middel van die dal, en die hele gelykveld van Medéba af tot by Dibon;
10en al die stede van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon geregeer het, tot by die grens van die kinders van Ammon;
11en Gílead en die grondgebied van die Gesuriete en Maägatiete en die hele berg Hermon en die hele Basan tot by Salka;
12die hele koninkryk van Og in Basan, wat koning was in Ástarot en in Edréï (hy het oorgebly uit die laastes van die Refaïete; en Moses het hulle verslaan en verdrywe).
13Maar die kinders van Israel het die Gesuriete en Maägatiete nie verdrywe nie, sodat Gesur en Maägat onder Israel gewoon het tot vandag toe.
14 Net aan die stam van Levi het hy geen erfdeel gegee nie: die vuuroffers van die Here, die God van Israel, dit is sy erfdeel, soos Hy hom beloof het.
15En Moses het aan die stam van die kinders van Ruben gegee volgens hulle geslagte;
16sodat hulle die grondgebied ontvang het: van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, die stad in die middel van die dal, en die hele gelykveld tot by Medéba;
17Hesbon en al sy stede wat in die gelykveld lê, Dibon en Bamot-Baäl en Bet-Baäl-Méon
18en Jahas en Kedémot en Mefáät;
19en Kirjatáim en Sibma en Seret-Hassáhar, op die gebergte van die dal,
20 en Bet-Peor en die hange van die Pisga en Bet-Hajésimot;
21 en al die stede van die gelykveld en die hele koninkryk van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon geregeer het, wat Moses verslaan het saam met die vorste van Mídian: Ewi en Rekem en Sur en Hur en Reba, die vorste van Sihon, inwoners van die land.
22 By hulle dooies het die kinders van Israel ook Bíleam, die seun van Beor, die waarsêer, met die swaard gedood.
23So was dan die grens van die kinders van Ruben: die Jordaan saam met sy gebied; dit was die erfdeel van die kinders van Ruben volgens hulle geslagte, die stede met hulle dorpe.
24En Moses het aan die stam van Gad, die kinders van Gad, gegee volgens hulle geslagte;
25sodat hulle die grondgebied ontvang het van Jaéser en al die stede van Gílead en die helfte van die land van die kinders van Ammon, tot by Ároër wat teenoor Rabba lê,
26van Hesbon af tot by Ramat-Mispe en Bétonim; en van Mahanáim af tot by die grens van Lídbir;
27en in die dal: Bet-Haram en Bet-Nimra en Sukkot en Safon, die oorblyfsel van die koninkryk van Sihon, die koning van Hesbon, die Jordaan saam met sy gebied, tot by die uiteinde van die Kinnéretsee, oorkant die Jordaan na die ooste toe.
28Dit is die erfdeel van die kinders van Gad volgens hulle geslagte, die stede met hulle dorpe.
29Verder het Moses aan die halwe stam van Manasse gegee; sodat die halwe stam van die kinders van Manasse ontvang het volgens hulle geslagte —
30hulle grondgebied was: van Mahanáim af, die hele Basan, die hele koninkryk van Og, die koning van Basan, en al die Jaïrsdorpe in Basan, sestig stede;
31en die halwe Gílead en Ástarot en Edréï, stede van die koninkryk van Og in Basan, aan die kinders van Magir, die seun van Manasse — aan die helfte van die kinders van Magir volgens hulle geslagte.
32Dit is wat Moses as erfenis uitgedeel het in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo teen die ooste;
33 maar aan die stam van Levi het Moses geen erfdeel gegee nie; die Here, die God van Israel, is self hulle erfdeel, soos Hy hulle beloof het.

Currently Selected:

JOSUA 13: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy