YouVersion Logo
Search Icon

JOB 34

34
Elíhu wil nie daarvan weet dat God onreg gedoen het teenoor Job nie.
1VERDER het Elíhu aangehef en gesê:
2Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het!
3Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe.
4Laat ons vir onsself uitmaak wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is.
5Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem.
6Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding!
7Waar is 'n man soos Job wat godslastering drink soos water?
8Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense?
9Want hy het gesê: Dit baat 'n man niks dat hy 'n welgevalle aan God het nie.
Onreg is in stryd met die wese en werk van God.
10DAAROM, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!
11 Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens 'n man se wandel laat Hy hom ondervind.
12Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.
13Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond?
14As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek,
15dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.
16As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde.
17Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?
18Durf iemand aan 'n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose!
19 Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
20In 'n oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word 'n volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf — nie deur 'n hand nie.
21 Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe.
22 Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.
23Want Hy hoef nie lank op 'n mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie.
24Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek.
25So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word.
26Hy straf hulle soos goddelose op die plek waar almal dit sien,
27omdat hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee het nie —
28om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor.
29En gee Hý rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? — of dit al 'n nasie betref of 'n mens, almal saam;
30sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie.
Alle verstandige mense sal Job veroordeel as hy klaag oor die regering van alle dinge deur God.
31WANT sê iemand wel tot Gód: Ek boet sonder dat ek sleg handel;
32 wat ek nie insien nie, leer Ú my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie —
33moet Hy volgens u mening tog vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet — spreek dit uit!
34Manne van verstand sal vir my sê, en 'n wyse man wat my aanhoor:
35Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand.
36Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners.
37Want hy voeg 'n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.

Currently Selected:

JOB 34: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy