YouVersion Logo
Search Icon

JOB 27

27
Job handhaaf sy onskuld voor God.
1EN Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
2So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het —
3want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus —
4my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!
5Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.
6Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.
Job maak sy vriende opmerksaam hoe weinig ooreenkoms daar tussen hom en 'n goddelose is.
7MY vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.
8 Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny — as God sy siel wegneem?
9 Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?
10Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?
Job erken dat die reg van God dikwels geopenbaar word in die ondergang van die goddelose mense; maar dit is nie op hom toepaslik nie, want hy is geen goddelose nie.
11EK sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.
12Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop?
13 Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:
14 as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.
15Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.
16As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder —
17hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.
18Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak.
19Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en — is nie meer nie.
20 Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg.
21Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.
22En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.
23Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.

Currently Selected:

JOB 27: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy