YouVersion Logo
Search Icon

JOB 22

22
Élifas beweer nou dat God geen belang het by die smarte van Job nie; dat Hy hom ook nie kan bestraf oor sy godsvrug nie; dus is Job se sonde die oorsaak van sy ellende.
1TOE het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
2Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.
3Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
4Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
5Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
Job se eerste sonde is hardheid teenoor sy naaste.
6WANT jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
7Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
8Maar aan die man van geweld — aan hom behoort die land; en die aansienlike — hy moet daarin woon!
9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
10Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
11Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
Verder het Job gesondig deurdat hy dit voorstel asof God geen kennis neem van die dinge op aarde nie.
12IS God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
13Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
14Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
15Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
16wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,
17wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
18En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
19 Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
20Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
Laat Job vriendskap soek by God; dan sal hy weer voorspoed en geluk sien.
21SLUIT tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
22Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
23As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
24En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
25Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
26Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
27Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
28Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.
29As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
30Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.

Currently Selected:

JOB 22: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy