YouVersion Logo
Search Icon

JOB 10

10
Wat kan tog die bedoeling wees van soveel smart?
1EK walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
2Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
3 Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
4 Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien?
5Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man?
6dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
7ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
In die verlede het God hom tog die lewe gegee en gunste bewys.
8 U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
9Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
10Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
11Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
12Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
Kan dit wees dat God so met hom gehandel het net om hom te vervolg en te verdruk?
13MAAR daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
14As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
15Was ek skuldig — wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
16En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
17U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder — altyd nuwe leërafdelings teen my!
18 Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het.
19Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
20 Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees,
21 voordat ek heengaan — en nie terugkom nie — na die land van duisternis en doodskaduwee,
22'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel — soos middernag!

Currently Selected:

JOB 10: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy