YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 21

21
Herstelling van die stam van Benjamin.
1MAAR die manne van Israel het al in Mispa gesweer en gesê: Niemand van ons mag sy dogter aan 'n Benjaminiet as vrou gee nie.
2En toe die manskappe in Bet-el kom, het hulle daar gebly tot die aand toe voor die aangesig van God en hulle stem verhef en geween met 'n groot geween
3en gesê: Waarom, o Here, God van Israel, het dit in Israel gebeur dat daar vandag een stam uit Israel vermis word?
4Daarop het die manskappe die volgende dag vroeg klaargemaak en daar 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring.
5En die kinders van Israel het gesê: Wie is daar van al die stamme van Israel wat nie opgegaan het na die vergadering, na die Here toe nie? Want daar was 'n plegtige eed teen die een wat nie opgaan na die Here in Mispa nie — hy moet sekerlik gedood word.
6Toe het die kinders van Israel hulle broer Benjamin jammer gekry en gesê: Daar is vandag een stam uit Israel afgesny.
7Wat kan ons doen vir hulle wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want ons het by die Here gesweer dat ons nie van ons dogters aan hulle as vroue sal gee nie.
8Toe sê hulle: Wie is diegene wat van die stamme van Israel nie opgegaan het na die Here in Mispa nie? En kyk, niemand het uit Jabes in Gílead na die laer, na die vergadering gekom nie.
9En die volk is getel, en daar was niemand van die inwoners van Jabes in Gílead nie.
10Toe stuur die vergadering daarheen twaalfduisend man uit die dapper manne en gee hulle bevel en sê: Gaan heen en slaan die inwoners van Jabes in Gílead met die skerpte van die swaard, ook die vroue en die kinders.
11En dit is die ding wat julle moet doen: Alles wat manlik is, en al die vroue wat die gemeenskap met die man ken, moet julle met die banvloek tref.
12En hulle het onder die inwoners van Jabes in Gílead vierhonderd meisies aangetref, jongmeisies wat geen gemeenskap met 'n man gehad het nie, en dié het hulle na die laer gebring in Silo wat in die land Kanaän lê.
13Toe stuur die hele vergadering en hulle spreek met die kinders van Benjamin wat by die rots Rimmon was, en bied hulle die vrede aan.
14Daarop het Benjamin in dié tyd teruggekom; en hulle het die vroue wat hulle uit die vroue van Jabes in Gílead in die lewe behou het, aan hulle gegee, maar só was daar vir hulle nie genoeg nie.
15En die volk het Benjamin jammer gekry, omdat die Here 'n skeuring gemaak het onder die stamme van Israel.
16Toe sê die oudstes van die vergadering: Wat kan ons doen vir die wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want die vroue was uit Benjamin verdelg.
17Verder sê hulle: Die besitting van die wat oorgebly het, behoort aan Benjamin, sodat geen stam uit Israel mag uitgedelg word nie.
18Maar ons self kan hulle geen vroue uit ons dogters gee nie; want die kinders van Israel het gesweer en gesê: Vervloek is hy wat 'n vrou aan Benjamin gee.
19Toe sê hulle: Kyk, daar is jaar vir jaar 'n fees van die Here in Silo wat noord van Bet-el lê, oostelik van die grootpad wat opgaan van Bet-el na Sigem, en suid van Lebóna.
20En hulle het die kinders van Benjamin bevel gegee en gesê: Gaan en lê en loer in die wingerde.
21En let op, en kyk, as die dogters van Silo uittrek om hulle koordanse uit te voer, dan moet julle uit die wingerde uitkom, en julle moet vir julle, elkeen sy vrou, uit die dogters van Silo vang en na die land Benjamin gaan.
22En as hulle vaders of hulle broers kom om by ons 'n saak te maak, sal ons vir hulle sê: Skenk hulle aan óns, want ons het nie vir elkeen 'n vrou in die oorlog geneem nie. Julle self het hulle mos nie aan hulle gegee nie; in dié geval alleen sou julle skuldig gewees het.
23Die kinders van Benjamin het toe so gedoen: hulle het vroue volgens hulle getal weggedra uit die danseresse wat hulle geroof het; en hulle het weggegaan en teruggekeer na hul erfdeel toe, en hulle het die stede opgebou en daarin gewoon.
24En die kinders van Israel het in daardie tyd daarvandaan weggegaan, elkeen na sy stam en na sy geslag, en hulle het daarvandaan uitgetrek, elkeen na sy erfdeel toe.
25 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.

Currently Selected:

RIGTERS 21: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy