YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 18

18
Die Daniete beroof Miga van sy afgode en beelde en verbrand die stad Lais.
1IN dié dae was daar geen koning in Israel nie; en in dié dae het die stam van die Daniete vir hom 'n erfdeel gesoek om in te woon, want tot dié dag toe het onder die stamme van Israel geen genoegsame erfdeel aan hom toegeval nie.
2En die kinders van Dan het uit al die dele van hulle geslag vyf man, dapper manne, uit Sórea en Estáol gestuur om die land te verken en dit te deursoek, en vir hulle gesê: Gaan deursoek die land. En hulle het die gebergte van Efraim ingegaan tot by die huis van Miga en daar die nag oorgebly.
3Toe hulle by die huis van Miga was en die stem van die jongman, die Leviet, herken, draai hulle daar af en sê vir hom: Wie het jou hierheen gebring, en wat maak jy hier, en wat soek jy hier?
4Daarop sê hy vir hulle: So en so het Miga met my gedoen, en hy het my gehuur, en ek het sy priester geword.
5Toe vra hulle hom: Raadpleeg God tog, dat ons kan weet of ons pad waarop ons reis, voorspoedig sal wees.
6En die priester sê vir hulle: Gaan in vrede; voor die Here lê julle pad waar julle langs sal gaan.
7Toe gaan die vyf manne weg en hulle kom by Lais; en hulle sien dat die volk wat daarin was, veilig woon volgens die gewoonte van die Sidoniërs, rustig en onbesorg; en daar was niemand wat in enigiets leed doen in die land deur vermoë in besit te neem nie; en hulle was ver van die Sidoniërs af, terwyl hulle met geen mens gemeenskap gehad het nie.
8En toe hulle by hul broers kom in Sórea en Estáol, sê hul broers vir hulle: Wat julle?
9En hulle antwoord: Maak klaar, en laat ons teen hulle optrek! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed; en julle sit stil! Wees nie traag om te trek, in te gaan, die land in besit te neem nie.
10As julle daar kom, sal julle by 'n onbesorgde volk kom, en die land is alkante toe wyd; want God gee dit in julle hand, 'n plek waar aan niks op aarde gebrek is nie.
11Toe het daarvandaan weggetrek, uit die geslag van die Daniete, uit Sórea en Estáol, seshonderd man, omgord met wapens.
12En hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Kirjat-Jeárim in Juda; daarom noem hulle dié plek Dan-se-Laer tot vandag toe; dit lê daar agter Kirjat-Jeárim.
13En daarvandaan het hulle oorgetrek in die gebergte van Efraim en gekom tot by die huis van Miga.
14Daarop het die vyf man wat gegaan het om die land van Lais te verken, aan hulle broers begin sê: Weet julle dat in hierdie huise 'n skouerkleed en huisgode en 'n gesnede en 'n gegote beeld is? Weet dan nou wat julle moet doen!
15Hulle het toe daarheen uitgedraai en gekom by die huis van die jongman, die Leviet, die huis van Miga, en hom na sy welstand gevra.
16Onderwyl die seshonderd man wat uit die kinders van Dan was, met hulle wapens omgord voor die ingang van die poort gaan staan,
17het die vyf man wat gegaan het om die land te verken, opgegaan, daar ingekom, die gesnede beeld en die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem, terwyl die priester by die ingang van die poort bly staan saam met die seshonderd man met wapens omgord.
18Toe daardie manne dan die huis van Miga ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem het, vra die priester vir hulle: Wat maak julle?
19En hulle sê vir hom: Bly stil, sit jou hand op jou mond en gaan saam met ons, en wees vir ons 'n vader en 'n priester: is dit beter vir jou om priester te wees vir die huis van een man of om priester te wees vir 'n stam en 'n geslag in Israel?
20Toe word die priester se hart vrolik, en hy neem die skouerkleed en die huisgode en die gesnede beeld en gaan tussen die manskappe in.
21En hulle het weggedraai en voortgetrek, met die kinders en die vee en die waardevolle goed op hulle voorpunt.
22Nadat hulle 'n hele ent weg was van Miga se huis af, is die manne van die huise wat by Miga se huis staan, bymekaargeroep, en hulle het die kinders van Dan agtervolg
23en na die kinders van Dan geroep. Toe draai dié hulle gesigte om en vra vir Miga: Wat is dit met jou dat julle bymekaargeroep is?
24En hy sê: My gode wat ek gemaak het, het julle weggeneem saam met die priester, en julle trek weg; wat het ek nou oor? En hoe kan julle dan vir my sê: Wat is dit met jou?
25Maar die kinders van Dan sê vir hom: Moenie jou stem by ons laat hoor nie, sodat nie miskien manne met 'n bitter gemoed op julle aanval en jy jou eie lewe en die lewe van jou huis verloor nie.
26Daarop gaan die kinders van Dan hulle koers, terwyl Miga, toe hy sien dat hulle sterker was as hy, omdraai en na sy huis teruggaan.
27Maar hulle het saamgeneem wat Miga gemaak het, en die priester wat hy gehad het; en hulle het Lais, 'n rustige en onbesorgde volk, oorval en dié met die skerpte van die swaard verslaan en die stad met vuur verbrand.
28En daar was geen redder nie, want dit was ver van Sidon af en hulle het met niemand gemeenskap gehad nie: dit het in die dal gelê wat by Bet-Rehob behoort. Hulle bou toe die stad weer op en woon daarin,
29en noem die stad Dan, na die naam van hulle vader Dan wat vir Israel gebore is; maar tevore was die naam van die stad Lais.
30En die kinders van Dan het vir hulle die gesnede beeld opgerig; en Jónatan, die seun van Gersom, die seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van die Daniete tot op die dag van die ontvolking van die land.
31En hulle het vir hulle die gesnede beeld van Miga opgerig wat hy gemaak het, al die dae dat die huis van God in Silo was.

Currently Selected:

RIGTERS 18: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy