YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 24

24
Die voleinding. Die wêreldgerig.
1KYK, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners.
2 Dieselfde lot tref die volk en die priester, die slaaf en sy heer, die slavin en haar meesteres, die koper en die verkoper, die uitlener en die lener, die skuldeiser en die skuldenaar.
3Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek.
4Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.
5Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.
6Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor.
7 Die mos treur, die wingerdstok verwelk, almal wat bly van hart is, sug.
8Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou op, weg is die vreugde van die siter!
9Hulle drink geen wyn onder gesang nie; die sterk drank smaak bitter vir die wat dit drink.
10Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie.
11Daar is 'n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban.
12Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot 'n puinhoop stukkend geslaan.
13Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.
14Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die Here juig hulle van die see af:
15Daarom, eer die Here in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die Here, die God van Israel!
16Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.
17 Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde!
18En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.
19Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.
20Die aarde waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.
21En in dié dag sal die Here besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde;
22en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in 'n kuil en bewaar word in 'n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.
23En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die Here van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees.

Currently Selected:

JESAJA 24: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy