YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 30

30
1EN toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek.
2Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het?
3En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word.
4Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan.
5En Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun gebaar.
6Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my 'n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem.
7En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob 'n tweede seun gebaar.
8Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem.
9En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou.
10En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun gebaar.
11Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem.
12Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob 'n tweede seun gebaar.
13Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem.
14En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels.
15Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap.
16Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap.
17En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob 'n vyfde seun gebaar.
18Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem.
19En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob 'n sesde seun gebaar.
20Toe sê Lea: God het my 'n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.
21En daarna het sy 'n dogter gebaar en haar Dina genoem.
22En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:
23sy het bevrug geword en 'n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem.
24En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die Here vir my 'n ander seun daar byvoeg!
25En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan.
26Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.
27Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het — ek het waargeneem dat die Here my om jou ontwil geseën het.
28Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee.
29Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het.
30Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en die Here het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk?
31En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg —
32ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees.
33En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees.
34Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord!
35En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee.
36En hy het 'n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas.
37Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier-, amandel- en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom;
38en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink.
39En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes.
40Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie.
41En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die oë van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte.
42Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob.
43En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.

Currently Selected:

GÉNESIS 30: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy