YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 29

29
Jakob werk vir Laban. Hy trou met Lea en Ragel. Sy vroue het baie seuns, en hy word ryk.
1TOE lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste.
2En meteens sien hy 'n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby lê, want uit dié put het hulle die vee laat drink; en daar was 'n groot klip op die opening van die put.
3En as al die troppe daar bymekaarkom, rol hulle die klip weg van die opening van die put en laat die vee drink; daarna sit hulle die klip weer op die opening van die put op sy plek.
4Toe sê Jakob vir hulle: My broers, waar is julle vandaan? En hulle antwoord: Ons kom van Haran.
5En hy vra hulle: Ken julle vir Laban, die seun van Nahor? En hulle antwoord: Ons ken hom.
6Verder sê hy vir hulle: Gaan dit goed met hom? En hulle antwoord: Dit gaan goed; en daar kom sy dogter Ragel aan met die vee.
7En hy sê: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei.
8Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink.
9Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas.
10Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer.
11En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween.
12En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel.
13Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel.
14Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom 'n volle maand gebly.
15Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? Sê my wat jou loon moet wees.
16En Laban het twee dogters gehad — die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel.
17En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien.
18En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter.
19Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan 'n ander man gee. Bly by my.
20So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos 'n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.
21Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan.
22Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en 'n maaltyd berei.
23Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.
24En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin.
25En die anderdagmôre — daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?
26En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.
27Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring.
28En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou.
29En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar.
30En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens.
31En toe die Here sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar.
32En Lea het bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die Here het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê.
33En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Gewis, die Here het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem.
34En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem.
35En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die Here loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.

Currently Selected:

GÉNESIS 29: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy