YouVersion Logo
Search Icon

ESÉGIËL 1

1
Eerste gesig van die gérubs.
1IN die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.
2Op die vyfde van die maand — dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin —
3het die woord van die Here uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die Here was daar op hom.
4Toe het ek gekyk — en daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk met onophoudelike vuur; en 'n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.
5En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dít was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van 'n mens gehad;
6en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke;
7en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van 'n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper;
8 en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier,
9hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan.
10En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van 'n mens; en al vier het die gesig van 'n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van 'n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van 'n arend gehad.
11En hulle vlerke het uitgesprei na boontoe; elkeen het twee gehad wat met mekaar verbind was, en twee wat hulle liggame bedek het.
12En hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan; waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie.
13Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkoms van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het 'n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan.
14En die wesens het heen en weer gesnel, in aansien soos 'n bliksemstraal.
15 Ek het toe die wesens nader bekyk: daar was een wiel op die grond langs die wesens aan elkeen van die vier voorkante.
16Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van 'n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar 'n wiel binne-in 'n wiel was.
17Na al vier kante het hulle gegaan as hulle gaan: hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.
18En hulle vellings — dié was hoog en dié was wonderbaar; en hulle vellings was by al vier rondom vol oë.
19En as die wesens gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die wesens hulle van die grond af ophef, word die wiele opgehef.
20 Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan in die rigting wat die gees wou gaan; en die wiele is gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wese was in die wiele.
21As dié gaan, gaan hulle; en as dié bly staan, staan hulle; en as dié hulle van die grond af ophef, word die wiele gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wesens was in die wiele.
22En oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van 'n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei.
23En onder die uitspansel heen was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek; en elkeen het twee gehad wat duskant en anderkant hul liggame bedek het.
24En as hulle gaan, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige — 'n gedruis soos die gedreun van 'n leër. As hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
25En daar het 'n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; as hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
26En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van 'n troon; en op die troongestalte 'n gestalte wat soos 'n mens gelyk het.
27Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in 'n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met 'n glans daaromheen.
28 Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op 'n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.

Currently Selected:

ESÉGIËL 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy