YouVersion Logo
Search Icon

EXODUS 28

28
Die heilige klere.
1DAN moet jý jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Ítamar, die seuns van Aäron.
2En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.
3Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
4En dit is die klere wat hulle moet maak: 'n borstas en 'n skouerkleed en 'n mantel en 'n kunstig bewerkte rok, 'n tulband en 'n gordel; so moet hulle dan vir Aäron, jou broer, heilige klere maak, en vir sy seuns, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
5En hulle moet die goud en die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne neem.
6 En hulle moet die skouerkleed maak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, as kunstige werk.
7Dit moet twee skouerstukke hê wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente moet dit saamgevoeg word.
8En die band wat daaraan is om dit vas te bind, moet van dieselfde werk en, daarmee saam, uit een stuk wees, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9En jy moet twee oniksstene neem en die name van die kinders van Israel daarop graveer:
10ses van dié name op die een steen en die ses ander name op die ander steen volgens hulle geboortes.
11 Met graveerwerk, soos op 'n seëlsteen uitgesny word, moet jy die twee stene graveer volgens die name van die kinders van Israel. Jy moet hulle maak dat hulle vassit in kassies van goud.
12En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel — Aäron moet hulle name op sy twee skouers dra voor die aangesig van die Here om hulle in gedagtenis te bring.
13Jy moet dan kassies van goud maak
14en twee kettings van suiwer goud; gedraai soos toutjies moet jy hulle maak; en maak die kettings, soos toutjies gedraai, aan die kassies vas.
15 Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak.
16Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; 'n span sy lengte en 'n span sy breedte.
17 En voorsien dit van 'n steeninvulling van vier rye stene: 'n ry met 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag moet die eerste ry wees.
18En die tweede ry: 'n karbonkel, 'n saffier en 'n jaspis.
19En die derde ry: 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis.
20En die vierde ry: 'n chrisoliet en 'n oniks en 'n sardoniks. Hulle moet in goud vasgesit wees by hulle invulling.
21En die stene moet volgens die name van die kinders van Israel twaalf wees, volgens hulle name. Soos op 'n seëlsteen uitgesny word, so moet hulle vir twaalf stamme wees, elkeen volgens sy naam.
22Jy moet ook by die borstas gedraaide kettings, soos toutjies gedraai, van suiwer goud maak.
23En maak by die borstas twee goue ringe; en bevestig die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas,
24en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van die borstas;
25en maak die twee ander ente van die twee toutjies vas aan die twee kassies, en bevestig dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed, aan die voorkant daarvan.
26Jy moet ook twee goue ringe maak, en bevestig dié aan die twee onder-ente van die borstas, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
27En maak twee goue ringe, en bevestig dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
28En hulle moet die borstas met sy ringe aan die ringe van die skouerkleed met 'n pers toutjie vasbind, sodat dit bo die band van die skouerkleed is en die borstas nie van die skouerkleed afskuiwe nie.
29 So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van die Here gedurigdeur.
30 Jy moet ook in die borstas van beslissing die Urim en die Tummim sit, dat hulle op die hart van Aäron kan wees as hy voor die aangesig van die Here ingaan. So moet Aäron dan die beslissing van die kinders van Israel gedurigdeur op sy hart dra voor die aangesig van die Here.
31En jy moet die mantel van die skouerkleed heeltemal van pers stof maak.
32En die opening vir die hoof moet in die middel daarvan wees. Rondom die opening moet 'n soom van wewerswerk wees. Soos die opening van 'n pantser moet dit daaraan wees, dat dit nie kan skeur nie.
33En maak aan die soom daarvan granaatjies van pers en purperrooi en bloedrooi kleur, aan die soom daarvan rondom, en daar tussenin goue klokkies rondom:
34'n goue klokkie en 'n granaatjie, 'n goue klokkie en 'n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom.
35En Aäron moet dit aanhê om te kan dien, sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die heiligdom, voor die aangesig van die Here, ingaan en as hy daar uitgaan, dat hy nie sterwe nie.
36Verder moet jy 'n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op 'n seëlsteen uitgesny word: Heilig aan die Here.
37En maak dit vas aan 'n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees.
38So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig — al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van die Here welgevalle mag vind.
39Jy moet ook die rok van fyn linne kunstig bewerk. Jy moet ook 'n tulband van fyn linne maak, en 'n gordel moet jy van veelkleurige werk maak.
40 En maak rokke vir die seuns van Aäron, en maak vir hulle gordels. Ook moet jy vir hulle musse maak, tot eer en tot sieraad.
41En trek dit jou broer Aäron en sy seuns saam met hom aan. En salf hulle en stel hulle aan en heilig hulle, sodat hulle vir My die priesteramp kan bedien.
42Maak ook vir hulle linnebroeke om die vlees van die skaamte te bedek. Dit moet van die heupe tot by die dye wees.
43En Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van samekoms gaan, of as hulle nader kom na die altaar om in die heiligdom te dien, sodat hulle geen skuld op hulle laai en sterwe nie. Dit is 'n ewige insetting vir hom en vir sy nageslag ná hom.

Currently Selected:

EXODUS 28: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy