YouVersion Logo
Search Icon

EXODUS 24

24
Moses en die oudstes klim op die berg.
1DAARNA het Hy vir Moses gesê: Klim na die Here toe op, jy en Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af.
2En laat Moses alleen nader kom na die Here toe, maar hulle moet nie nader kom nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie.
3Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die Here en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die Here gespreek het, sal ons doen.
4En Moses het al die woorde van die Here opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg 'n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.
5En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die Here geslag.
6En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
7En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.
9Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel.
10En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos 'n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.
11Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.
12Toe sê die Here vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig.
13Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van God geklim
14en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk, Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.
15Toe Moses die berg opklim, het 'n wolk die berg oordek.
16En die heerlikheid van die Here het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk.
17En die verskyning van die Here se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos 'n verterende vuur op die top van die berg.
18En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.

Currently Selected:

EXODUS 24: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy