YouVersion Logo
Search Icon

EXODUS 10

10
Agtste plaag: die sprinkane.
1VERDER het die Here vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig,
2en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die Here is.
3Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die Here, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
4Want as jy weier om my volk te laat trek, kyk, dan bring Ek môre sprinkane in jou grondgebied,
5en hulle sal die oppervlakte van die land oordek, sodat 'n mens die land nie sal kan sien nie. En hulle sal die oorblyfsel afeet van wat gered is, wat vir julle van die hael oorgebly het; en al die bome wat vir julle uit die veld opgroei, sal hulle afeet.
6En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees — soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.
7Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons 'n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die Here hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?
8Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die Here julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan?
9En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil 'n fees vir die Here hou.
10Toe sê hy vir hulle: Mag die Here só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het 'n verkeerde ding voor oë.
11Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die Here, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.
12Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.
13En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die Here het 'n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer:
14die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, 'n baie groot menigte — tevore was daar so 'n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie.
15En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het — daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie.
16Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die Here julle God en teen julle.
17Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot die Here julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.
18En hy het van Farao af weggegaan en tot die Here gebid.
19Daarop laat die Here die wind omslaan in 'n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.
20Maar die Here het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie.
Negende plaag: duisternis.
21VERDER het die Here vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat 'n mens die duisternis kan gryp.
22Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank.
23Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.
24Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien die Here; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.
25Maar Moses antwoord: U moet self ook slagoffers en brandoffers met ons saam gee, dat ons dit aan die Here onse God kan aanbied.
26En ons vee moet ook met ons saamgaan: daar mag geen klou agterbly nie! Want daarvan moet ons neem om die Here onse God te dien. En ons weet nie waarmee ons die Here onse God sal dien voordat ons daar kom nie.
27Maar die Here het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie.
28Maar Farao sê vir hom: Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe.
29En Moses antwoord: U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.

Currently Selected:

EXODUS 10: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy