YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 1

1
Die fees van Ahasvéros. Koningin Vasti word verstoot.
1EN in die dae van Ahasvéros — dit is die Ahasvéros wat geregeer het van Indië af tot by Kus, honderd-sewen-en-twintig provinsies —
2in dié dae toe koning Ahasvéros op sy koninklike troon in die vesting Susan gesit het,
3in die derde jaar van sy regering, het hy 'n maaltyd berei vir al sy vorste en sy dienaars; die leërmag van Persië en Medië, die vername manne en die vorste van die provinsies was voor hom;
4waarby hy die rykdom van sy koninklike heerlikheid en die skitterende prag van sy grootheid baie dae, honderd-en-tagtig dae lank, vertoon het.
5En toe dié dae verby was, het die koning vir al die mense wat in die vesting Susan aanwesig was, van die grootste tot die kleinste, 'n maaltyd berei, sewe dae lank, op die voorplein van die tuin van die koninklike paleis.
6Linne-, katoen- en pers stowwe was met linne- en purperrooi bande vasgemaak aan silwerringe en marmerpilare! Goue en silwerrusbanke op 'n plaveisel van malachiet en van witmarmer en perlemoensteen en gevlekte marmer!
7Daarby het hy hulle laat drink uit goue bekers, en die een beker was verskillend van die ander beker, en daar was koninklike wyn in oorvloed, eg koninklik!
8En hulle het gedrink volgens voorskrif: niemand het gedwing nie; want so het die koning bevel gegee aan al die hoë beamptes van sy paleis, dat hulle na elkeen se sin moes handel.
9Ook het die koningin Vasti 'n vrouemaaltyd aangerig in die koninklike paleis van koning Ahasvéros.
10Op die sewende dag, toe die hart van die koning vrolik was van die wyn, het hy aan Mehúman, Bista, Harbóna, Bigta en Abágta, Setar en Karkas, die sewe hofdienaars wat voor koning Ahasvéros gedien het, gesê
11dat hulle koningin Vasti met die koninklike kroon op voor die koning moet bring om haar skoonheid aan die volke en die vorste te toon, want sy was mooi van aansien.
12Maar koningin Vasti het geweier om te kom op die bevel van die koning deur middel van die hofdienaars aan haar oorgebring. Toe het die koning baie kwaad geword, en sy woede het in hom ontvlam.
13En die koning het aan die wyse manne, die kenners van die tye, gesê — want só word die sake van die koning aan al die kenners van wet en reg voorgelê;
14en die naaste aan hom was: Karséna, Setar, Admáta, Tarsis, Meres, Marséna, Memúgan, die sewe vorste van die Perse en Meders wat die aangesig van die koning gesien het, wat vooraan gesit het in die koninkryk —
15wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti, omdat sy die bevel van koning Ahasvéros, deur middel van sy hofdienaars, nie opgevolg het nie?
16Toe sê Memúgan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in al die provinsies van koning Ahasvéros is.
17Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit hulle manne in hul oë veragtelik sal maak as daar gesê word: Koning Ahasvéros het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie.
18Dieselfde dag nog sal die vorstinne van die Perse en Meders, as hulle die geval van die koningin hoor, dit aan al die vorste van die koning vertel; en dan sal dit genoeg veragting en gramskap afgee!
19As die koning dit goedvind, laat daar 'n koninklike woord van hom uitgaan en beskrywe word in die wette van die Perse en Meders, sodat dit onherroeplik is, dat Vasti nie meer voor koning Ahasvéros mag kom nie; en laat die koning haar koninklike waardigheid aan haar naaste gee wat beter is as sy.
20As dan van die bevelskrif van die koning gehoor word wat hy in sy hele koninkryk — want dit is groot — uitvaardig, sal al die vroue aan hulle manne eer bewys, van die grootste tot die kleinste.
21En die woord was goed in die oë van die koning en van die vorste, en die koning het gehandel volgens die raad van Memúgan.
22En hy het briewe gestuur aan al die provinsies van die koning, aan elke provinsie volgens sy eie skrif en aan elke volk volgens sy eie taal, dat elke man in sy huis baas moet wees en sy volkstaal praat.

Currently Selected:

ESTER 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy