YouVersion Logo
Search Icon

PREDIKER 1

1
Alles is tevergeefs.
1DIE woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.
2 Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
3 Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?
4Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.
5En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.
6Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug.
7Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.
8Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.
9Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.
10Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.
11Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.
Strewe na wysheid bring geen geluk nie.
12EK, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.
13En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is 'n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
14Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind.
15 Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.
16Ek het met myself gespreek en gesê: Kyk, ék het groot en altyd groter wysheid verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie wysheid en kennis gesien.
17Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook 'n gejaag na wind is.
18Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart.

Currently Selected:

PREDIKER 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy