YouVersion Logo
Search Icon

AMOS 9

9
Vyfde gesig: die verwoesting van die altaar. Belofte van herstel.
1 EK het die Here by die altaar sien staan, en Hy het gesê: Slaan die kapiteel van die pilaar, sodat die drumpels bewe; en verpletter hulle bo die hoof van almal! En Ek sal die wat van hulle oorbly, met die swaard ombring: die vlugteling uit hulle sal nie ontsnap nie, en geen vrygeraakte onder hulle homself red nie.
2 Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.
3En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.
4En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en nie ten goede nie.
5Ja, dit is die Here Here van die leërskare wat die aarde aanraak, sodat dit bewe en almal treur wat daarop woon; en dit sal in sy geheel oprys soos die Nyl en wegsak soos die rivier van Egipte.
6 Dit is Hy wat sy solders in die hemele bou en sy hemelgewelf bo die aarde vestig, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem, Here is sy Naam!
7 Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel? spreek die Here. Het Ek Israel nie laat optrek uit Egipteland en die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?
8Kyk, die oë van die Here Here is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die Here.
9Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in 'n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie.
10Al die sondaars van my volk sal deur die swaard sterwe, die wat sê: Die onheil sal ons nie bereik en ons nie ontmoet nie.
11 In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd;
12sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen.
13Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.
14En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.
15En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God.

Currently Selected:

AMOS 9: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy