YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 6

6
Kiesing van die sewe diakens.
1EN in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar 'n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.
2En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie.
3 Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel;
4maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.
5En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, 'n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, 'n Jodegenoot uit Antiochíë,
6wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê.
7En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.
Stéfanus die eerste martelaar vir Christus.
8EN Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.
9En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis.
10Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.
11Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.
12En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring.
13En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.
14Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.
15En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.

Currently Selected:

HANDELINGE 6: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy