YouVersion Logo
Search Icon

I SAMUEL 30

30
Siklag word geplunder en verbrand. Dawid neem wraak.
1EN toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.
2En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan.
3Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer.
4Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.
5Ook Dawid se twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet, was as gevangenes weggevoer.
6En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die Here sy God.
7En Dawid sê vir Ábjatar, die priester, die seun van Ahiméleg: Bring tog die skouerkleed vir my hier. Daarop het Ábjatar die skouerkleed na Dawid gebring.
8En Dawid het die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal? En Hy sê vir hom: Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.
9Daarop het Dawid weggetrek, hy met die seshonderd man wat by hom was; en toe hulle by die spruit Besor kom, het die origes agtergebly.
10Dawid het naamlik agtervolg, hy met vierhonderd man, terwyl tweehonderd man agtergebly het wat te moeg was om die spruit Besor deur te trek.
11Toe vind hulle in die veld 'n Egiptenaar wat hulle na Dawid bring, en hulle gee hom brood om te eet en water om te drink.
12Daarby gee hulle hom 'n stuk vyekoek en twee rosynekoeke. En toe hy geëet het, het hy weer bygekom; want hy het drie dae en drie nagte geen brood geëet of water gedrink nie.
13En Dawid vra hom: Aan wie behoort jy? En waar kom jy vandaan? En hy sê: Ek is 'n Egiptiese seun, die slaaf van 'n Amalekitiese man, en my heer het my laat agterbly, omdat ek drie dae gelede siek geword het.
14Ons het 'n inval gedoen in die Suidland van die Kretiërs en in dié van Juda en in die Suidland van Kaleb, en Siklag met vuur verbrand.
15En Dawid vra hom: Sal jy my afbring na hierdie bende? En hy sê: Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my heer nie; dan sal ek u afbring na hierdie bende.
16En toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het.
17En Dawid het hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag, sodat niemand van hulle vrygeraak het nie, behalwe vierhonderd jongmanne wat op kamele gespring en gevlug het.
18So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem het; ook sy twee vroue het Dawid bevry.
19Niks van hulle is vermis nie — klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring.
20En Dawid het al die kleinvee en beeste afgeneem. Hulle het hul voor die ander vee gedrywe en gesê: Dit is Dawid se buit.
21Toe Dawid by die tweehonderd man kom wat te moeg was om agter Dawid aan te gaan en wat hulle by die spruit Besor laat bly het, trek hulle uit, Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoet; en Dawid het met die manskappe nader gekom en hulle na die welstand gevra.
22Daarop het al die slegte mense en die deugniete uit die manne wat met Dawid saamgegaan het, begin sê: Omdat hulle nie met ons saamgegaan het nie, sal ons hulle nie van die buit wat ons afgeneem het, gee nie; maar hulle kan elkeen sy vrou en sy kinders saamneem en weggaan.
23Maar Dawid het gesê: Julle mag nie so maak nie, my broers, met wat die Here ons gegee het, en Hy het ons bewaar en die bende wat ons oorval het, in ons hand gegee.
24En wie sou in hierdie saak na julle luister? Want soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel.
25So is dit dan van dié dag af en verder gewees; ja, hy het dit as 'n insetting en 'n verordening vir Israel vasgestel tot vandag toe.
26Toe Dawid dan in Siklag aankom, het hy van die buit aan die oudstes van Juda, sy stamgenote, gestuur en gesê: Hier is 'n geskenk vir julle uit die buit van die vyande van die Here:
27aan dié in Bet-el en aan dié in Ramot in die Suidland en aan dié in Jattir
28en aan dié in Ároër en aan dié in Sifmot en aan dié in Estemóa
29en aan dié in Ragal en aan dié in die stede van die Jeragmeëliete en aan dié in die stede van die Keniete
30en aan dié in Horma en aan dié in Bor-Asan en aan dié in Atag
31en aan dié in Hebron en aan al die plekke waar Dawid, hy en sy manne, rondgetrek het.

Currently Selected:

I SAMUEL 30: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy